God is GROOT. ‘n Week of wat terug het Oloff en Rozanne Cilliers die ergste verwag – dokters in PE het nie geweet of hul dogtertjie sou oorleef nie. Behalwe vir haar breinskade en al die gepaardgaande mediese probleme soos suig en sluk refleks, moontlike doof en blindheid en ‘n beskadigde kornea, het Ora se asemhalingsprobleme tot longontsteking gelei, wat gedreig het om haar lewe te eis.
Vanmiddag gaan Ora egter by die Rooikruis Kinderhospitaal opgeneem word om ‘n “peg” in haar magie te “installeer” en om haar refluksprobleem uit te klaar. Die narkotiseur is nou tevrede met haar longe en sy word môre-oggend geopereer. Die “peg” sal dit vir Oloff en Rozanne makliker maak om haar meer kos op ‘n slag te voer. As alles goed verloop sal sy so 5 dae in die hospitaal wees.
Elke dag is vir hierdie mense so kosbaar. Bid asseblief dat God die chirurg en ander personeel se handewerk sal seën, dat Ora goed sal herstel, en dat daar wonderwerke met haar sal gebeur! Ora het pas begin om geluidjies te maak – wat wys dat God besig is om met haar breintjie te werk!
Bid asseblief ook vir haar ouers, wat soms nie meer weet wat om te bid en waarvoor om te vra nie. En spreek asseblief lewe oor hierdie pragtige dogtertjie – wat niks, maar NIKS, is onmoontlik by God nie.
