Die mens is ‘n ongelooflike wese – vol teenstrydighede. Aan die een kant is ons so broos, breekbaar en sterflik klein. En aan die ander kant het ons ongelooflike krag, deursettingsvermoë, die vermoë om terug te bons as ons soos ‘n balletjie teen ‘n muur vasgegooi word.
Vir diegene wat nou eers begin lees en nie weet waarvan ek praat nie: Ek was siek en ek het gesond geword. En na my sal nog miljoene mense daagliks worstel met slegte nuus en siekte en sterflikheid.
Maar al weet ek dit is so, was dit tog vir my erg om na my siekte te beleef hoe soveel bekendes in die laaste paar maande deur hel gegaan het. Vriende wat hul babadogtertjie aan die dood afgestaan het (lees hieronder), ‘n skoolvriend wat sy vrou en die ma van sy twee klein kindertjies skielik en skokkend verloor het, ‘n vriendin wat die skok van ‘n ontroue man moet oorleef, en nog soveel ander stories.
Soms voel dit of ek dit te persoonlik opneem. Dit voel op ‘n manier of ek nou my beurt gehad het en nie meer enige slegte nuus, nie eens vérlangs, wil hoor nie! Ek en die mense om my verdien ‘n bietjie rus van slegte nuus, dan nie?
Nee! As dit nie met my of met jou gebeur nie, met wie dan? As die antwoord is “met niemand nie?”, dan is ons op die verkeerde plek, want die wêreld het nog nooit probeer voorgee om die paradys te wees nie. Selfs nie as jy ‘n persoonlike verhouding met Hom het, kry jy outomaties ‘n package deal met ‘n vrywarings voucher wat jou beskerm teen swaarkry nie.
In die fliek Shadowlands sê C.S. Lewis se karakter dat ons bloot leë houers sal bly as dit nie vir pyn en lyding was nie. As dit met my goed gaan, die boeke klop, my huwelik sterk staan, ek gesond is en my kinders redelik gemanierd en aangepas, waaroor gesels ek met die mense om my? Oor die Woolworths uitverkoping, S0-en-so se man wat ‘n affair het, die spul naskoolse aktiwiteite waarna jy moet jaag, Boetie se tandekry-pyne en die kampnaweek wat uitgereën het?
As dit net fantasties met ‘n mens gaan, gesels jy met jou vriendinne oor dieper dinge? Bid jy saam met iemand wat swaarkry? Soek jy met ywer na God se wil? Is jy fanaties oor die tyd wat jy afstaan aan die Here? Ek is seker dis nie net ek nie, maar ek kan ongelukkig nie positief op hierdie vrae antwoord nie! Ek wéét dat ek juis gevorm word en groei wanneer ek so bietjie sukkel en twyfel en hartseer of bekommerd is. Vir my is dit makliker om myself ‘n gelowige te noem wanneer dit met my sleg gaan as wanneer dit goed gaan! En daarin lê my persoonlike toets: om passievol en lewendig in verwondering te bly oor God se grootheid en mag, selfs al gaan dit met my góéd!
Hierdie reis het begin met ‘n louwarm Christen wat skoknuus ontvang het. Dit eindig met ‘n vuurwarm Christen waarmee dit goed gaan – maar wat party dae sukkel om die vuur gestook te hou! Ek hoop dat my storie vir iemand, al is dit net een mens, ‘n verskil gemaak het. Dat daardie een mens daarin die bewyse kon kry dat God regtig omgee, regtig saam met jou is elke treetjie van die lewenspad, dat Hy oor en oor sal probeer en nooit moed opgee met jou nie, dat Hy luister na jou gebede, so ontsettend graag ‘n daaglikse gesprek met jou wil voer, en dat Hy dwarsdeur al die swaarkry en die voorspoed nooit verander nie – Hy is!
Mag elke mens wat hier lees en besig is met swaarkry, met God se krag en genade weet dat hy/sy weer sal kan terugbons. Mag elkeen wat hier lees en besig is met allerhande ander dingetjies (wat daarop dui dat dit met jou goed gaan), met God se krag en genade weet dat dit net GENADE is! Nie omdat jy so hard werk, of omdat jy ou klere vir die armes gaan aflaai het, of omdat jy Sondagskool gee nie, maar net omdat God so genadig is. Leef daarom in dankbaarheid! Of probeer!
Dit was vreesaanjaend maar ‘n voorreg om my storie te deel. Dankie dat jy dit gelees het. Mag jy waardevolle lesse leer wanneer dit met jou sleg gaan. En mag die lesse in jou hart voortleef wanneer dit met jou goed gaan. Dis die einde van my geskrewe storie – vir nou. Totsiens!
Hoewel ek nie kommentaar gelewer het nie, het ek jou storie gevolg. ‘n Kragtige inskrywing hierdie en baie waar. Ek is so bly jy kon oorwin!
Jou baas by Sanlam, Herman Engelbrecht, het lank gelede vir my gesé ek het ‘n dame grootgemaak. Ek wou bars van trots!! Jy het nou, met jou God se genade en hulp, deur hierdie ondervinding gekom en steeds ‘n dame gebly. Ek is trots op jou! Liefde.