Die ou Kersliedjie “Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar” het vandag in my kop opgekom. Ek kan die woorde verander en sing: “Al voel dit nie so nie, ek weet dit is waar.”
Sonder om al die boring detail te verskaf, dink ek dis belangrik om ook die afdraandes met die mense om my te deel. Ek was vroeg in die week by ‘n vriendin se verjaarsdag waar een van haar gaste my gevra het om ook eerlik te skryf oor die laagtepunte. Ek dink amper dis die heel belangrikste iets om te deel. Want hoeveel van ons voel nie van God verlate in moeilike tye nie? Dit voel of hy van jou vergeet het, of gou iets anders gaan doen het toe jy hom die nodigste gehad het. Maar ek kan met alle eerlikheid sê dat dit nie waar is nie. Hy is die heeltyd daar, reg langs jou, IN jou.
Ek was op ‘n “hoogtepunt” (hoe hoog so ‘n punt nou ook kan wees as ‘n mens ‘n kankerdiagnose gehad het!) oor my “skoon” CT scan en die MRI wat fase 1 kanker aangedui het en bowenal omdat God al my vrees en bekommernis op Hom geneem het. Weens die “goeie nuus” was ‘n kleiner transrektale operasie by ‘n bekende UCT-spesialis ‘n moontlikheid, ek was gespaar van bestraling en chemoterapie.
En toe kom UCT (Grootte Schuur) …
Ek sal eendag die ervaring ordentlik neerskryf – en dalk vir ‘n paar staatshospitale stuur. ‘n Mens is voorbereid op lank wag en vuil gange en onvriendelike gesigte. Maar ek was aangenaam verras deur die nie-te-lank wag op ‘n sagte(rige) stoel, die skoon vloere en toilette en selfs ‘n paar glimlagte. MAAR daar is veel erger dinge wat jy hier kan verloor as bloot jou tyd.
Hier is jy is ‘n nommer (of eerder ‘n skaap ter slagting). Die meeste glimlagte voel onopreg en ingeoefen. Die doel is dat ander mense deur jou siekte opgelei word. Jy gaan sit in die ry as “‘n kanker”, nie as ‘n mens nie. Jy’s net ‘n liggaam, sonder hart en siel en gevoelens. In ‘n groot waglokaal staan die weegskaal reg in die middel (nie in ‘n hoekie met ‘n afskorting nie) – sodat die kanker-skape flink geweeg en gemeet kan word en nie ‘n ander kosbare spasie in die proses beset nie. As die span chirurge en onkoloë klaar jou geval bespreek het, bestorm die hele spul (8 tot 10 van hulle) die kamertjie waarin jy sit om hul opinie aan jou oor te dra. Onpersoonlik. Koud en klinies. ‘n See van onbekende gesigte, die meeste sonder ‘n “aangename kennis”. (Hoekom? Kan een afgevaardigde nie maar persoonlik met die pasiënt praat nie?) Van begin tot einde is jy daar sodat iemand iets uit jou kan leer. Dit was so oorweldigend, dat ek skoon vergeet het om my “theme song” te sing: “Who shall I fear? Who shall I fear? Cause I am Your’s! I am Your’s!
Ek het ‘n keuse, ek kon opstaan en sê “jammer julle, maar ek het dit nie nodig nie, druk maar julle kennis en opinies …” Maar wat van al die ander mense wat in die rye sit, wat geen opsie het nie. Wat bang en hartseer en verwilderd en getraumatiseerd en bowenal SIEK daar sit en wag. Vir wie ‘n vriendelike gebaar of ‘n opregte glimlag soveel kan beteken. Wat afhanklik is van die genade van ‘n oorwerkte, emosioneel afgestompte gesondheidswerker wat lewensbelangrike inligting al so onemosioneel soos ‘n tele-bemarker oordra. (Hierdie is net MY ervaring, ek is seker daar is mense wat beter ervarings gehad het.)
Ek dink regtig ‘n mens verloor jou menswaardigheid in hierdie sisteem – in ‘n tyd wat jy reeds afgetakel is en met alle mag aan jou waardigheid wil bly vasklou. Ek wil nie ondankbaar wees nie. Hoe sou hierdie mense gerekende spesialiste geword het wat vir my ‘n kennersopinie kan gee, sonder hierdie sisteem? Hoe anders sou hulle hul kennis kon inoefen? Dalk is ek hipersensitief. Maar dit was hartseer om te aanskou.
Die bottom line is dat dit vir iemand soos ek ‘n afbrekende ervaring was. Ek het gevoel die opinie was VIR MY PERSOONLIK nie die ervaring werd nie. (Org en die meeste ander mediese mense voel nie so nie.)
Hoewel die UCT span niks nuuts bygevoeg het nie, was alles skielik soveel donkerder as wat ek vroeër gedink het. Die opsie van transrektale chirurgie is van die tafel gehaal. Met hierdie metode is die kans op herhaling van kanker binne die volgende 10 jaar 20% – heeltemal te hoog vir ‘n 38jarige vrou wat graag nóg soveel jare by haar lewe wil voeg. Nie 5 tot 7 dae in die hospitaal nie, maar 7 tot 10 dae. Nie ‘n “sakkie” vir 6 weke nie, maar vir 3 maande. En die harde feite dat chemoterapie nie uitgeskakel is nie. ‘n Chirurg wat ek nie ken nie. ‘n Hospitaal waarin ek ‘n vreemdeling is – so VER van my man en kinders en vriende en familie. En skielik so vreeslik ver van God!
Terug by die huis is ek verslae. My kop werk oortyd. As dit vir my liggaam die beste is, is dit noodwendig vir my gees die beste om daar ‘n pasiënt te wees? En is ‘n mens se gees nie amper belangriker in die stryd om genesing nie? Hoe kan ek dit waag om nee-dankie te sê vir behandeling deur “die bestes”? Daar is soveel uiteenlopende opinies hieroor.
Ek sukkel die aand om te bid. Ek weet nie waarvoor nie. Dalk is dit verkeerd en selfsugtig dat hierdie dinge my so pla. Ek maak ‘n lysie van goed wat ek die graagste wil hê, sommige heeltemal belaglik. Tog help dit my om perspektief te kry:
* Here, laat hierdie beker by my verbygaan?
* Laat ek U teenwoordigheid meer tasbaar voel?
* Gee oplossings vir my vrese en irritasies?
* Gee my wysheid om die regte besluit te neem al voel dit of ek net wil vlug?
* Gee my ‘n bietjie stilte om myself te vind?
Ek krap ‘n item of twee op die lysie dood en bid – al dwaal my gedagtes en moet ek ‘n paar keer van voor af begin. Ek begeer stilte – van die telefoon en deurklokkie en kinders en van my eie negatiewe gedagtes. Net om rustig te kan sin maak uit alles. (Verskoon as ek nog nie jou sms beantwoord het nie – dis onbeantwoord maar nie ongewaardeerd!)
Ek, wat nie kan huil nie, verander in ‘n groot tjankbalie en huil kort-kort deur die dag en aand. Ek wil met niemand praat nie en niemand sien nie en vir niemand iets verduidelik nie.
Die volgende oggend, Donderdag, voel ek beter. Maar ek weet steeds nie wat om te besluit nie – UCT of nie? My kop rus nie ‘n sekonde lank nie. My selfoon biep. ‘n Dierbare vriendin wat nog nie weet wat die vorige dag gebeur het nie, skryf:
“What lies behind us and what lies before us, are small matters compared to what lies within us. – Ralph Waldo Emerson”
Ek weet dadelik dit is ‘n boodskap wat vir my sê dat niks van hierdie dinge saakmaak nie. Niks wat agter my lê of nog kom, kan my waardigheid aantas en my minder maak as wat ek is nie. Dit wat binne-in my is, is al wat tel.
Ek lê op my bed, kyk na die pragtige blou berge, lees en bid. In ‘n gebedsboekie wat ‘n goeie vriendin vir my gegee het, lees ek onder meer:
* “Here, ek wag vandag op U. Ek plaas my hoop in U Woord en vra dat U my opnuut met u Heilige Gees sal vervul en al my angs en twyfel sal wegneem. Ek wil nie hê my ongeduld of gebrek aan vertroue moet my weerhou van alles wat U graag in my wil bewerkstellig nie. Ek besef dat selfs wanneer dit voel of my lewe tot stilstand gekom het, ek net maar aan U kan bly vashou om steeds voort te beweeg op die pad wat U vir my beplan het.”
* “Here, ek het alle moed verloor, ek is verslae. Wys my die pad wat ek moet loop want my hoop is op U gevestig. Gee my wysheid, krag en helderheid van verstand om u stem te midde van enige donker of oorweldigend situasie te hoor.”
* “Here, as ek nog nie voldoende gerou het nie, help my om elke traan te stort wat nodig is om my siel volkome te bevry.”
En toe weet ek ook dat om jou lewe in God se hande te plaas, beteken nie dat jy nooit teleurgestel en hartseer gaan voel nie. ‘n Mens moet rou – dis hoe God jou aanmekaar gesit het. Jy hoef nie skuldig daaroor te voel nie. In dié proses is Hy ook by jou, al is dit moeilik om te glo. Om te huil en kwaad en opstandig te wees, is alles nodig. Ek is beslis nie altyd dapper en positief nie, maar ek kan dit altyd weer word met Sy hulp en genade.
Ek het gedink ek sal nooit die vraag vra nie: “Here, waarom ek?” Maar ek het! En ek sal seker vorentoe dit weer vra. Gelukkig het ek by die regte antwoord uitgekom: God wil my nie siek hê nie. Dis nie ‘n straf nie. Hy wil my gesond maak. En my vertroos en by my wees die hele lang pad.
Die krag kom bietjies-bietjies terug. Soveel dat ek Donderdag hier teen 13h00 ‘n belangrike hartsbesluit neem: Ek gaan NIE terug UCT toe nie. Ek gee nie om om in Tygerberg-hospitaal geopereer te word nie – wat ookal nodig is om die kanker uit te haal – maar ek weet dat ek hierdie kant van die Boerewors-gordyn gesond wil word.
Net daarna bel my oorspronklike chirurg en sê ons kan die middag ‘n bietjie kom gesels as ons vrae het oor die verslag. Toe ek en Org later by sy spreekkamer uitstap, weet ek met sekerheid dat dit HY moet wees wat my opereer. Hy is ‘n uiters bekwame, professionele chirurg – iemand wat behalwe vir sy skills, ook bedagsaam, respekvol en geestelik wys is. (En na baie “navorsing” weet ons nou daar is baie wêreldklas chirurge in die noordelike voorstede.)
Ek kan nie die verligting en vrede beskryf wat oor my gespoel het na dié besluit nie. Dit is so ‘n genade om verlos te wees van al die vrae en onsekerhede en so seker te kan glo dat ek die regte besluit geneem het – en om te weet dat hierdie chirurg deur God self gelei word.
Daar gaan nog baie T-aansluitings op hierdie pad wees, keuses om te maak. Links of regs? Ek WEET al voel ek soms swak, moeg, ongeduldig, hartseer en alleen, God IS by my in elke besluit en teleurstelling en irritasie en natuurlik ook in elke oorwinning en sukses. Ek VOEL dit net nie altyd nie. Maar ek leer nog. Bid asseblief dat die WEET vir my genoeg sal wees.
Dinsdag, 27 Oktober (op my pa, wat op 1 Augustus oorlede is, se verjaarsdag) om 14h00 word ek in Panorama MediClinic geopereer. Who shall I fear? Who shall I fear? Cause I’m Your’s! I am Your’s!
(‘n Goeie vriendin en ook my chirurg sê ek moet na die volgende liedjie van die Casting Crowns ook luister:
Voice of Truth
Oh, what would I do to have the kind of faith it takes to climb out of this boat I’m in, onto the crashing waves. To step out of my comfort zone into the realm of the unknown where Jesus is. And He’s holding out His hand. But the waves are calling out my name and they laugh at me, reminding me of all the times I’ve tried before and failed. The waves they keep on telling me time and time again: “Boy, you’ll never win! You’ll never win!”
But the Voice of Truth tells me a different story. The Voice of Truth says: “Do not be afraid!” The Voice of Truth says: “This is for my glory!” Out of all the voices calling out to me, I will choose to listen and believe the Voice of Truth.
Oh, what I would do to have the kind of strength it takes to stand before a giant with just a sling and a stone. Surrounded by the sound of thousand warriors shaking in their armour, wishing they’d have the strength to stand. But the giant’s calling out my name and he laughs at me, reminding me of all the times I’ve tried before and failed. The giant keeps on telling me time and time again: “Boy, you’ll never win! You’ll never win!”
But the stone was just the right size to put the giant on the ground. And the waves they don’t seem so high from on top, looking down I will soar with the wings of eagles. When I stop and listen to the sound of Jesus singing over me, I will choose to listen and believe the Voice of Truth!
(Gebedsboekie: Net genoeg lig vir die volgende tree deur Stormie Omartian)
[...] Klik net hier om die res te lees! [...]
Sjoe jy doen dit so reg en ek weet jy weet dis die Here in jou,maar jy moes self die worstelstryd deurgaan en WOW die resultaat is amazing!!!!Wanneer die gedagtes sy loop wel wil neem IS ons gereed om dit gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus(2Kor10v 4+5)