Ses ‘n halwe weke is verby! Ek weet dit het vir almal gevoel asof die tyd vlieg, maar vir my het die dae maar dikwels soos ‘n trapsuutjies verby gesleep. Maar hier is dit nou: As alles volgens plan verloop word ek môre-oggend om 10h30 geopereer om die stoma te “sluit”. Koebaai sakkie, hoop om jou nooit ooit weer te sien.
Ek weet nie of die sakkie vreeslik erg of glad nie erg was nie. ‘n Mens kan eintlik enige ding in die lewe hanteer. Dis van watter “angle” af jy kyk wat die verskil maak. In die heel begin het ek vreeslik opgesien na die ses weke van “swaardra al aan die een kant” wat voorlê – en toe ís die eerste paar dae swaardra.
Die eerste keer toe ek die hele spul moes vervang, gooi ek tou op na ‘n uur en sit en ween in die badkamer. Ek en Org sit vir lank en krap gom van my maagvel af – en toe ons van voor af begin, kom hy agter ek het nooit in die eerste plek die agterkant van die plakker afgetrek nie! G’n wonder ‘n buisie gom later wil niks vassit nie … Die uiteinde van die saak is dat ek besef die ding kan nie byt nie. En EK is sy baas, nie andersom nie.
Die laaste ruk was ons amper vriende. Behalwe op warm dae wanneer die stywe ondertoppie om die gedoente mooi styf teen my lyf te hou, darem net te hittig was. En die keer toe ek “kliek” hoor en moet hol vir ‘n vale toe ek agterkom die spulletjie het losgespring. Genadiglik was ek by my eie huis! Die kere wat hy soos ‘n ballon opgepof het en ek koes-koes met my handsak skuins oor my heup vinnig ‘n exit gemaak het. En al die kere wat ek iets verkeerd gedrink of geëet het dit gelyk het asof ek ‘n baie skewe swangerskap beleef.
Gistermiddag na ‘n lekker middagete by ‘n vriendin begin ta weer opswel, gesonde kossies ten spyt, en vir die eerste keer worry ek nie om te koes of my handsak oor die heup te drapeer nie. Wel, die onvoorwaardelike liefde kom bietjie laat, want môre is dit vaarwel. En nie ‘n dag te gou nie!
Dink môre aan my so enige tyd van 10h30 af – dit is nie ‘n groot en gevaarlike operasie nie, maar ek sal ‘n gebedjie waardeer! Groete tot later.