“Siekwees” is regtig soos die Kimberley se trein. Nie dat ek siek voel nie, maar ek is glo nie gesond nie! En dis opdraande en afdraande al die pad.
Gister drink ek koffie saam met iemand wat ook die trein gery het. Sy herinner my daaraan dat daar oppe en affe is – en sê al voel ek party dae negatief, moet ek myself DWING om postief te wees, al voel dit of ek vals is. Dis goeie raad, want die laaste paar dae voel dit of ek ‘n stokou stoomtrein is wat net nie die bult kan uit nie!
En dan staan ek letterlik verstom oor hoe God elke liewe bekommernis en irritasie en tantrum met die grootste geduld vir my uitsorteer. Al wat Hy van my vra is net om my oë en ore oop te hou en te GLO.
Probleem nommer 1:
Net nadat ek die “blog” begin het, voel ek skielik soos Steve Hofmeyr, en dis nie ‘n lekker gevoel nie. Ek voel blootgestel en emosioneel uitgeput – dis harde werk om met jou hart op jou mou rond te loop. Ek voel skielik die verskriklike verantwoordelikheid. Mense gaan lees oor my mediese en geestelike lewe – sê nou maar ek sê of skryf iets wat iemand van die wal af in die sloot inhelp?! My lewe is alles behalwe ‘n voorbeeld vir iemand. Ek weet so min. Ek voel soos ‘n baba wat nog moet leer om aan hierdie bors te suig vir my daaglikse kos!
Ek kry ‘n sms van God, via my Ooste-vriendin (God het vir haar hierdie skrif gegee toe sy vir my bid):
2 Korintiërs 4:5-10: “Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het “Laat daar lig skyn uit die duisternis”, het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar KLEIPOTTE wat maklik breek, die krag wat alles oortref kom dus van God, nie van ons nie.”
Daar’s my antwoord – swart op wit. Al wat ek het, is Sy lig in my. Dit gee my geen kennis van Bybelverse en -terme en hogere Christelike teorieë nie, maar net eerstehandse kennis van Sy heerlikheid. Hierdie blog gaan nie oor my nie (al was dit my aanvanklike doelstelling om mense oor my mediese vordering ingelig te hou). Ek is maar net ‘n ou kleipotjie wat met die eerste stampie kan stukkend breek. Die krag om iets meer as net my mediese vordering te bespreek, kom van Hom af. Dis nie ek nie. Ek hoef my dus glad nie te bekommer oor hoe dom ek voel vir die taak nie. Ek moet net klei in Sy hande wees.
Dié aand lees ek ‘n ou skoolmaat se Facebook-inskrywing: Jesaja 60:1-2: Kom Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn Sy magtige teenwoordigheid.
Hoe ek ooit kon dink dat God nie in eenvoudige taal met ons praat nie, weet nugter alleen. Sy kon mos enige ander vers op daardie spesifieke dag gekies het. ‘n Mens is soms seker net heeltemal dof (met Satan se hulp) as ‘n mens dit nie raaksien nie.
Probleem nommer 2:
Ek is geirriteerd en opstandig oor die UCT-affêre môre. Ja, ek weet die prof is oraloor bekend. Ek weet dis ‘n voorreg dat hy my kan spreek. Maar ek is nie lus om in die suidelike voorstede geopereer te word nie. Kapenaars sal weet hoe lank dit ons deesdae vat op die N1. Ek sal nie die kinders twee of drie keer ‘n dag kan sien nie en Org sal ook nie tussen gevalle kort-kort kan kom inloer soos by Panorama-hospitaal nie. Verder is ek is nie lus om môre soos ‘n staatspasiënt in ‘n ry te gaan staan en vorms invul nie. Ek is reeds uit my comfort zone. Ek smag nou na die bekende. Beslis ‘n lekker privaatkamer met die komplimente van Panorama MediClinic. Susters wat dadelik kom as ek die knoppie druk. (Be carefull what you wish for – ek wou mos aanvanklik eerder vir die ondersoek gaan in die suidelike voorstede waar niemand my ken nie!)
Een van my “leermeesters” skryf op my blog dat as ek voel die las is vir my te swaar, dan is ek besig om dit self te dra. Dit is SO waar, want vir my voel dit na ondankbare brat-nonsens wat ek nie regtig met God wil deel nie. By Hom moet ek mos dankbaar wees vir die hope genade wat Hy my reeds bewys het. Ek wil Hom nie ophou met sulke onbenullighede nie. Maar dis presies waarvoor ou Satan lyk my sit en wag. Want sy skryf verder:
“Sanet, jy moet verstaan die oomblik wat jy ‘n publieke proklamasie maak, is die vyand woedend. Hy wil net kom om te steel en te vernietig en dood te maak. Hy sit heeltyd met sy onderdane en beraam planne om jou uit die Vader se krag en behoeding te hou. Lukas 22:31-32: Jesus bid heeltyd vir julle. Satan kan nie jou gees raak nie, dit behoort aan Jesus, maar jou vlees kan hy bykom in die sin van irritasie, ongeduldigheid, moegheid, moedeloosheid, haastigheid. Veg om in Jesus se rus te wees. Wees stil en weet dat Hy God is.”
In my Bybel-dagboek onderstreep ek ook: Naby God is dit stil. Daar is lewe moontlik. Jesus se nabyheid gee moed vir die lewe en God se gees vul ons met die krag om te doen wat ons moet (in staatstoue staan, in verkeer sit, my kinders vir ‘n paar dae min sien); daarom kan ons leef sonder om bang te wees.
My tannie stuur ‘n sms: Psalm 62:6: “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.”
Hoeveel het ek meer nodig om my te oortuig dat ek alles by Hom moet los, by Hom moet kom RUS? Wie weet, dalk is daar ‘n wonderlike doel waarom ek ver van die huis af in ‘n vreemde hospitaal moet wees. Ek probeer hard om dit oor te gee, maar bid asseblief dat ek dit sal regkry om elke klein detail in Sy hande te los. (Baie moeilik vir iemand wat wat daarvan hou om in beheer te wees en glo dat as jy ‘n ding ordentlik gedoen wil hê, jy dit SELF doen.)
Probleem nommer 3:
Kom ons wees nou maar eerlik. Terwyl ‘n mens verslae en vreesbevange is, is jy rou genoeg om God volkome in beheer van jou lewe te plaas. Jy smag daarna om die passasier te wees wat saam met Hom ry. Sodra jy weer self ‘n mate van beheer herwin het, raak dit al moeiliker om Hom in die “driver seat” te laat sit. Al kom die gevoel van beheer direk van Hom af – wat jou gesond gemaak het, nuwe krag gegee het om jou “vyand” te verslaan. Ek weet nou dat dit in my lewe soms nodig was dat die mat onder my voete uitgeruk word. Hoe anders behou ‘n mens die GLO dat Hy in beheer is?
Ek is steeds NIKS bang vir my siekte nie – en dis net eenvoudig God se genade, NIKS maar NIKS wat ek gedoen het, maak dat ek hierdie voorreg verdien nie. Maar wat doen ek nou? Ek voel so sterk en kragtig dat ek weer op my eie planne beraam en dinke dink. Ek is so moeg vir die topic , dat ek met alle mag en mening oor ander dinge wil dink en praat en bid. En voor ek my kom kry, hardloop my gedagtes in alle windrigtings. Wat as hulle DIT vir my sê? Wat as hulle DAT tydens die operasie opspoor?
En hoor net wat skryf ‘n verlangse vriendin (wat natuurlik nou ’n naby-vriendin geword het) vanoggend vir my:
“As you go out this morning, remember that He is your bread of life. He is the author and finisher of your faith. He is YAWHE ROPHE, your healer. He is your peace, He is EL SHADDAI, the God of more than enough. And above all, He is ABBA, Father, the precious Father who cares for your every concern. Remember, He fills you and He manifests Himself through you. May you choose to let Him touch and lead you today.”
Elkeen van ons het ons eie uiteenlopende afdraaipaadjies, al steek ons dit so goed vir mekaar weg. Myne is nou, geluk by die ongeluk, nie iets wat ek kan wegsteek soos ‘n huweliks- of familiekrisis of ‘n bekommernis oor geld of kinders nie. Maar een ding wat ek in die laaste paar dae met sekerheid kan getuig, is dat God daarby betrokke WIL wees.
More-aand meer oor my uitstappie na Grootte Schuur …
Weet jy hoe bevoorreg jy is om deur die omstandighede te gaan en soveel geestelike groei te ondergaan….iets wat MILJOENE Christene nie beleef nie!Hul krissise hanteer hulle net soos enige “ander” mens en die resultate is dan ….negtaief terwyl oorwinning by ons en in ons le!(Life is about choices)Weereens dankie dat jy jouself so “ontbloot” het….dit maak die houvas watSatan “mag”he ,kragteloos!