My hart bly seer! Ek moes nou net koebaai sê vir ons geliefde Spaas, waarsonder ek nie dink ons huishouding kan funksioneer nie. Sy gaan terug na Prince Albert, na haar mense toe. En los ons half verwese agter, almal in trane, behalwe Stef wat nie ‘n idee het waarom sy nie môre vinnig met haar skuifeltreetjies gaan kom as hy “Paaaaas? Paaasieeee?” roep nie.
Ek dink nie daar was al ‘n Kersfees in my lewe waar ek so konstant met ‘n knop in die keel rondgeloop het nie. En die dinge wat my hartseer stem is alles sake waarop ek my glad nie kon voorberei nie. Ek kon nie regtig dink aan Spaas se weggaan nie, want ek was die laaste twee weke in survival mode. En ek kon my nie voorberei op die realiteite na die sluiting van my stoma nie – want ek het nie geweet wat dit presies sou behels nie.
Ek was SO opgewonde oor die “finale” hekkie waaroor ek so graag wou spring, die sluiting van die stoma. Heeltemal naief het ek gedink die derm word eenvoudig teruggeplant en dan gaan ek aan met my lewe …
Toe swel ek op soos ‘n ballon en krul van die pyn – en word twee dae na die operasie weer in die hospitaal opgeneem. Ek kan nie dink dat daar al ‘n erger drie dae in my lewe was nie. Daar was ‘n spul knope in my dunderm en wie weet nog watter ander redes waarom die spulletjie nie wou begin werk nie.
My skoonsuster vra hoekom ek nie lekker gelê en lees het in my hospitaalbed nie? Want ek kon nie asem kry van die pyn nie. (Nie eens pethadine kon die pyn verlig nie.) Want ek moes ‘n spul pogings oorleef om die derm aan die gang te skok. ‘n Enema wat my laat kramp het asof ek in kraam is, sonder dat die doelwit bereik is. ‘n Nasogastriese buis wat deur my neus tot in my maag gesteek is en waarvan ek ‘n dag lank gegag het. ‘n Inspuiting wat my laat voel het ek is besig om dood te gaan – dit het gevoel asof my hart gaan staan, die sweet het my afgetap – en die doelwit is steeds nie 100% bereik nie.
Die pyn het beter geword en ek is ontslaan. Toe word ek koorsig. En ontdek ek het ‘n handjievol infeksies – die ergste van almal ‘n blaasinfeksie wat my verder laat krul van die krampe. EN my kolon wat vir 6 weke gelê en hiberneer het, begin toe ook ontwaak met ‘n aanhoudende spasma. En steeds geen teken van die kos wat ek ‘n week vantevore geëet het nie!
Toe kom die grootste verrassing van almal. Vrydag begin my derms bietjie werk – elke drie minute ‘n druppeltjie. Dag en nag. Ek slaap niks. Vandag is die rekord ‘n 45 minute wagtydperk tussen toiletbesoeke! (Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees!)
Die realiteit van my kanker is dat ek nie meer ‘n rektum het nie – en die rektum is die plek waar jou derms die stoorwerk doen. My kolon moet nou leer hoe om die rektum se rol oor te neem, maar hy is net daaraan gewoond om sy inhoud vorentoe te stoot. En dit gaan hom meer as ‘n paar dae neem om agter te kom hy het nou ‘n ander werk. Ek het dus geen stoorkapasiteit nie. En ‘n mens se derms werk altyd – dag en nag. Die uiteinde is dat ek 100 keer ‘n dag (en nag) toilet toe moet gaan, elke keer as my kolon ietsie kleins het om vorentoe te stoot.
Maar ‘n mens se liggaam is wonderlik geskep deur God. Kyk net hoe het daardie laaste deeltjie van my kolon reeds aangepas by sy nuwe funksie. Van 5 minute tot 45 minute in 5 dae! Volgens Ettienne sal dit tot ‘n jaar of langer vat voordat alles weer “normaal” sal voel. Ek het dit geweet. Maar ek het nie besef “abnormaal” is so verskriklik ABNORMAAL nie!
Ek was teen die grond die laaste paar dae. Ek kon nie glo alles loop so reg, altyd reg, en dan backfire die deel waaroor ek nie eens geworry het nie. Ek is deur ‘n moeilike tyd in my geestelike lewe – ek weet met my kop God is steeds in beheer. Ek voel net soms hoe die vrees terugkruip. En ek vergeet net soms Sy beloftes. Dit is baie moeilik om te bly glo aan God se beloftes as jou asem weggeslaan is van die pyn, of as jy aan slaapdeprivasie ly omdat jy heelnag op die toilet sit.
Maar ek is besig om ‘n comeback te maak … Gee my net ‘n paar dae om oor Spaas te treur, dan’s die Kaap weer Hollands! Intussen vra ek steeds vir julle gebede – dat ek vrede in my hart sal kry oor my “kondisie” en dat God vir my sal seën met meer geduld. Ek’s ‘n “now or never” tipe mens – so hierdie is my groot toets.
Hoop julle is die presentsoekery gespaar, dat julle slaaiblare en roasting vegetables reeds in die yskas lê en julle die Woolies-toue nie hoef aan te durf nie, dat julle alles wat nog geDOEN moet word van julle skouers sal afskud en onthou dat niks daarvan saak maak nie. Hier sit ek vir die eerste keer op Kersfees sonder ‘n present vir Org, ‘n paar halfgebakte idees vir die kinders en geen begeerte om kulinêre pryse met die Kersspyskaart los te slaan nie. Dit voel gestroop. Maar wonderlik. Hê ‘n eenvoudige, wonderlike en geseënde Christusfees propvol liefde.