
Presies een jaar gelede ...
Op Vrydag 9 Oktober het álles verander.
Ek was nie meer net ‘n 38 jarige jong “girl” nie wat probeer uit”figure” het of ek moet Botox of nie. Ek was nie meer net die ma van twee jong kinders, aan die rondjaag tussen sport en dans terwyl ek ‘n toebroodjie in my dogter se maag probeer inpraat en met die ander hand Boeta se bottel aangee nie. Ek was nie net meer Org se vrou wat vir hom kwaad was omdat hy “per ongeluk” ons 19 maande oue seuntjie alleen buite laat ronddwaal het nie. Ek was nie net meer die vrou met die verbleikte swart gimbroek besig met die hoeveelste “Maandag-debuut” op die treadmill in die gim om van die pap post pregnancy maagvel ontslae te probeer raak nie. Ek was nie net meer die vriendin wat skoon vergeet het om ‘n reminder op my selfoon te sit om ons afspraak by Willowbridge te onthou nie.
Ek was skielik, binne ‘n splitsekond, die een iemand wat ek nooit in my wildste drome gedink het ek sou wees nie. Ek was ‘n kankerpasiënt.
Binne die laaste paar dae het ek soveel eposse, facebook-boodskappe, sms’e en oproepe van bekendes en onbekendes ontvang – almal vol meelewing en belangstelling en elkeen spesiaal. Hierdie is my poging om almal wat wil weet, ingelig te hou. Nie net oor my mediese vordering nie, maar veral oor die ongelooflike (of eerder GELOOFlike) geestelike pad wat ek ‘n paar dae gelede begin stap het – glo dit of nie, TE DANKE aan die aaklige K-woord.
My vriendin het vir my na die woorde van die liedjie “Who am I?” van die Casting Crowns laat luister. Dit eindig so:
Who shall I fear?
Who shall I fear?
Cause I am Your’s,
I am Yours!
Ek sing dit sedertdien elke dag vir myself.
Dankie dat jy vir my genoeg omgee om hier te lees. En dankie dat jy vir my en my gesin bly bid.