Dit het my ‘n rukkie geneem om tot hier voor die rekenaar te kom.
Ek voel al lankal die woorde op my vingerpunte brand! Ek moes al lankal skryf oor die week van wonderwerke wat verby is – die operasie, die hospitaal, die uitslag, die herstel.
Maar dit is asof ek die ervarings vir myself wil hou en koester. En soos ek al genoem het, is ek nie iemand wat graag persoonlike detail met ander bespreek nie – veral nie geestelike dinge nie. Maar ek wéét God wil hê ek moet dit deel. Want dit is een van Sy belangrike opdragte aan ons – om mekaar se geloof te versterk.
Ek dink nie ek sal ooit die omvang besef van God se netwerk waarvan ek deel uitmaak nie. Tog het ek in die laaste paar weke verstom gestaan oor hoe hy ‘n skynbaar onbenullige gesprek of terloopse opmerking van een mens kan gebruik om so VEEL in ‘n ander mens se lewe te beteken – sonder dat dit so bedoel is deur die MENS. (Maar duidelik so deur HOM bedoel.)
Deur gehoorsaam te wees aan Hom en hier te skryf oor my ervarings, is al lankal haarfyn so beplan, sodat iemand anders, al is dit net een spesifieke mens, net die regte woord op die regte oomblik kan ontvang. Soveel mense was in die laaste weke gehoorsaam aan Hom deur bloot met my te deel dit wat God vir hulle gesê het, al het hulle onseker daaroor gevoel. Dit het so ‘n reuse invloed op my gehad dat ek nou besef hoe belangrik dit is om fyn na God se opdragte te luister.
Kom ons begin by die begin. (Dit gaan ‘n lang een wees hierdie, heeltemal teen my “joernalistieke reëls” van kort en kragtig. Jammer Ilse!)
In die week voor die operasie het meer as een mens hulleself op die spot gesit en vir my gesê hulle glo dat ek reeds genees is. Op 21 Oktober skryf Chantel: “God druk hierdie op my hart vir jou. Jer 33:6: Behold, I will lay upon it health and healing, and will cure them and will reveal to them the abundance of peace and truth. Ek weet jy is reeds genees. Glo dit en moenie die Leuen van Satan glo as hy jou enigiets anders wysmaak nie.”
Later skryf sy weer: “In Christ I have perfect peace and confidence. In the world I have tribulation and trials and distress and frustration, but I can be of good cheer for Christ has overcome the world. He has deprived it of power to harm me and has conquered it for me (John 16:33). Sanet, ons bid en vertrou! Hy’t reeds genesing gebring, glo dit!”
Op die dag van die operasie sms sy: “Be blessed! Accept and receive His blessing ALREADY bestowed unto you! Dis die woorde wat nou in my hart lê!”
Nou kan ek vir julle met alle eerlikheid sê, so ‘n sms sou my nekhare laat rys het in my vorige “lou lewe”. Hoe kan iemand met soveel sekerheid sulke gevaarlike stellings maak? ‘n Siek mens is so broos dat hy enige iets positief wil glo. Sê nou maar hy sit sy hele hart op so ‘n belofte en dit word nie vir hom waar nie?!
Ek weet nie hoekom nie – dit is sekerlik net deur genade – maar ek sien nou glashelder in hoeveel ongeloof ek nog my hele lewe leef. Ek het soveel mure om my gebou en myself so beskerm teen teleurstelling, dat ek sinies geword het oor gebed en hoe God direk met ons praat in Sy Woord en deur Sy kinders. Ek het nog altyd geglo dat God vir my lief is, maar ek is mos nou nie só belangrik in die Big Picture dat daar nou spesiaal vir my wonderwerke sal gebeur as ek daarvoor vra nie. Nevermind glo dat ‘n random Bybelvers spesiaal deur Hom na my persoonlik gestuur word!
Hoe kon ek so dom wees? Hoekom het die oogklappe nie al lankal afgeval nie? Hoe kon ek al die jare sy goedheid en genade en liefdevolle en teer teenwoordigheid in my lewe miskyk?
Ons almal het sulke blokkasies in ons geloof. Dinge wat nie vir ons sin maak nie. In Mei vanjaar was ek ook onder diegene wat gedink het God is beslis nie ‘n God van genade as Hy toelaat dat twee kindertjies uit dieselfde gesin op so ‘n grusame wyse van hul ouers weggeruk word nie. (Ek ken nie Jan Hendrik en Patrys van der Merwe nie, maar ek het lank geworstel met hul verlies en die betekenis daarvan.)
Ek is nog so jonk in my “nuwe” geloof, so ek is versigtig om my kinderlike opinie oor leed te lug, maar ek glo nou vir die eerste keer vas dat siekte en verlies en trauma en hartseer nie van God af kom nie. Ek sien Hom in my geestesoog saamhuil en saamtreur. In Psalm 5 staan geskryf: “U is nie ‘n God wat onreg verdra nie, die kwaad het by U geen plek nie.” Hierdie dinge kom NIE van Hom af NIE!
Ons leef in ‘n verskriklike wêreld waar miljoene onskuldige mense onmenslike leed ervaar – oorlog, misdaad, hongersnood, mishandeling, siekte. Ons leef nie in die paradys nie, al lyk dit soms vir ons so. Ons wat so lekker leef in ons groot huise en vinnige karre en Woolworths om die draai, hoekom dink ons hierdie wêreldse verskriklikhede sal ons gespaar bly?
Ons leef in die wêreld, maar die goeie nuus is dat Hy binne-in ons wêreldse leed en pyn saam met ons is – of jy êrens in Afrika vir jou lewe vlug omdat jy aan die verkeerde stam behoort en of jy voor jou duur huis ten spyte van die beste voorsorgmaatreëls gehighjack word. Ek SUKKEL om dit te verstaan, maar Hy het my en jou pyn AL KLAAR op Hom geneem.
Net na my diagnose sms Wilrien: “Die feit dat jy huil en hartseer is beteken nie dat jy nie in God en sy almagtigheid glo nie. Dis woede, teleurstelling, skok. Jy is ‘n mens en jy is Sy kind. Jy MOET huil want Hy wil jou trane afdroog – en dis die ultimate prize.”
Ek ervaar regtig elke dag dat God my soos ‘n klein kindjie wil toevou in Sy arms. Ek moet Hom net toelaat en nie soos ‘n halstarrige tiener Hom wegstoot en op my eie probeer aankarring nie.
Terug by Sy beloftes aan my: Chantel se woorde is soveel keer deur ander mense, en op soveel ander maniere aan my bevestig. Elzaine stuur vir my Psalm 91: “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oor dag, vir pes wat in donker toeslaan of siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie … Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en adders sal jy doodtrap.” Sy sê ook vir my dat sy nie eens oor my bekommerd is nie. Sy WEET die Here gaan my gesond maak.
My suster Ansa sms: “He is your God, the one who is worthy of your praise, the one who has done mighty miracles that you yourself has seen. – Deut 10:21)
Inge skryf uit Doebai ‘n boodskap van haar tannie wat ‘n sendeling is en my nie ken nie: “Sy sê jy moet die Here se aangesig soek. Hy gaan jou bou en versterk sodat jy vir ander kan help en Hy gaan jou gesond maak.”
Ek wil dit glo. Net daarna skryf ek in my dagboek en onder aan daardie spesifieke dag se bladsy is gedruk: Daar is niks vals wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is. Psalm 12:7. (!!!)
Die operasie
Dinsdagoggend, 27 Oktober word ek wakker en weet die realiteit is nou hier. Daar is nou klaar ge’op’ en ge’af’. Hier is dit nou. Ek dink nie ‘n mens is ooit uit jou eie gereed vir so iets nie. As jy kan, sal jy kies om dit nog ‘n dag, nog ‘n dag, nog ‘n dag uit te stel.
Ek het nog nie kans gekry om te “rou” oor al die verliese nie, om my voor te berei op dit wat kom nie. Dis maklik om ‘n grappie daaroor te maak, maar ek IS hartseer oor my maag wat vir altyd geskend sal wees – al is dit nie na ‘n paar swangerskappe my beste bate nie. Oor my splinternuwe peperduur Pringle-bikini waarvoor ek tien teen een nie weer gaan kans sien nie. Oor my verlore jeug – dit was maklik om op 38 nog deur te gaan as ‘n girl, maar nou voel ek na ‘n stokou sieklike vrou. Oor my gesondheid wat ek so vanselfsprekend aanvaar het, en wat ek nou verloor het. Oor my geweldige sin vir privaatheid en waardigheid, wat ek moet prysgee vir die behandeling van my siekte. En dat ék van alle mense na die operasie ‘n derm op my heup moet dra! Daar is so baie sulke klein verliese. Maar as ek sou moes wag tot ek hulle almal verwerk het, sou ons nie gou kon opereer nie.
Dis moeilik om te beskryf hoe ek voor die tyd gevoel het. Ek was innerlik kalm – ‘n vredige Godgegewe kalmte. Tog was daar ‘n vlinder of twee op my maag. Dis soos om jou goed voor te berei vir ‘n eksamen en te weet jy gaan goed vaar, maar steeds so ‘n bietjie naels te kou voordat die vraestel voor jou neergesit word.
Die narkotiseur is een van Org se wonderlike vennote, Piet Diederichs, en hy stel voor dat ek ‘n uur en half vooraf “pre-med” kry om my kalm te hou. Toe hy uitstap is ek vas oortuig dat ek nie op ‘n trip wil wees nie, maar Org voel ek moenie die trein ontspoor nie. Tog druk ek deur en my wens word aanvaar. Hoe bly is ek nie dat ek na daardie innerlike stemmetjie geluister het nie!
As ek op ‘n pre-med trip was, sou ek nie vir langer as ‘n uur heerlik rustig met God kon tyd spandeer nie. En die beste van alles is dat Hy self vir my in daardie uur die nodige kalmte gegee het sonder ‘n pil in sig.
Ek bieg dat ek nie ‘n goeie pasiënt uitmaak nie. (Ek voel byvoorbeeld swak en hulpeloos as ek in ‘n bed moet lê met pajamas aan. Ek het dus vooraf vir my Woolies-sweetpakbroeke en T-shirts gekoop met ‘n toezip-top pleks van ‘n kamerjas.) Toe die portier my kom haal om teater toe te gaan, was my instink om eerder self soontoe te wil stap as om deur die gange soos ‘n siekeling op ‘n wit bed te ry. Ek kan mos loop! Dit is vir my moeilik en dit maak my skaam om in ‘n posisie te wees waar ek “swak” moet wees. (Iets om aan te werk?)
In die teater sê Ettienne hy het sy laptop met enige musiek waarna ek graag wil luister. Ek vra vir die liedjie wat hy en my vriendin Nadine albei aanbeveel het – The Voice of Truth van die Casting Crowns. Dit speel sag in die agtergrond terwyl Pieter sy narkose-voorbereidings doen. Ek kan nie die woorde mooi hoor nie, maar tog VOEL ek God se teenwoordigheid en visualiseer sy arm om my skouer. Die musiek gaan saggies oor na MY liedjie, Who Am I?, met die betekenisvolle laaste frase: Who shall I fear? Who shall I fear? Cause I’m Your’s. I am Yours.”
Toe Pieter die epiduraal opsit, vra ek vir Ettienne om my liedjie weer te speel en dit harder te draai. Dit is so wonderlik om jouself so te kan oorgee in God se hand. So ‘n bietjie broos, bietjie bang, bietjie versigtig – maar tog met oorgawe en met die vaste wete dat Hy HIER is, hier BY my! Ek weet nie hoe ongelowige mense dit regkry om alleen so ‘n situasie te face nie. Die teenwoordigheid van God was so duidelik aanvoelbaar – en ek is so dankbaar dat ek dit “nugter” kon beleef.
En toe die slaap, wondersoete slaap …
Drie ure later was ek glo uit die teater na ‘n tegnies moeilike, maar suksesvolle anterior reseksie. Ek het geen herinnering aan die herstelkamer nie, maar ek was glo wild (narkose gas doen dit aan my). My eerste gevoel van wakkerwees was in die Hoësorg Eenheid, deurmekaar en propvol intense pyn en ongemak en naarheid en die ergste van alles, ‘n oorweldigende DORS (wat ek eers meer as ‘n dag later kon les)!
Die eerste twee dae is vir my ‘n waas van voedingsbuise en dreineringspype en swaar epiduraal-bene en Pethadine-trips en ‘n geblaas in die fisio se pypies en ‘n dorstige gesuig aan ysies. Maar Donderdagoggend voel ek goed genoeg om te versoek dat die epiduraal ‘n bietjie afgedraai word om te sien hoe ek die pyn op die oorblywende medikasie alleen hanteer. Dit gaan goed! My eerste poging tot opstaan eindig duiselig in ‘n stoel, maar suster Ilse vat my later weer vir ‘n spin en elke treetjie gaan dit beter.
Terug by Ettienne se besoek Donderdagoggend: Nadat ons mediese dinge tydens sy ronde gesels het, noem hy dat ek hom die vorige nag vreeslik wakker gehou het. Ek skrik! Beteken dit daar is iets waaroor hy worry?! Hy vertel dat hy ‘n vriendin van die gesin gevra het om te bid dat die operasie geseënd sal verloop. Hy skrik toe Woensdagnag wakker met die bekommernis dat hy vergeet het om vir haar te sê dat sy moet bid dat die (te) klein oorblywende derm waaraan die kolon geheg is, skoon moet wees. Die Here antwoord hom toe self met die duidelike gedagte: Moenie bekommerd wees nie. Ek het SELF die hoekies en randjies skoongevee!” Daar en dan soek hy met sy selfoonliggie na die Bybelvers wat spontaan by hom opgekom het en wat hy in sy slaapnewels nie wou vergeet nie. Jesaja 35:4: Sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf; God kom julle red!”
Ek suig sy woorde soos ‘n spons op. Ek weet die Here werk deur hom en dat ek hierdie openbaring moet vasgryp en GLO. Hoeveel keer het Hy nie al die belofte aan my gemaak dat hy hierdie vyand in my liggaam gaan uitwis nie? Die suster spring weg en sy en ‘n wonderlike ander suster kom minute later terug met ‘n drukstuk van die Bybelvers, saam opgewonde oor God se belofte.
Die histologie uitslag (die ontleding van die verwyderde derm) sou eers Vrydag beskikbaar wees. Maar toe ek Donderdagmiddag weer vir Ettienne sien, het hy ‘n klein smile’tjie op sy gesig. Ek is heeltemal oorstelp toe hy my vertel dat die voorlopige uitslag wys daar is GEEN TEKEN VAN KANKERSELLE in die oorblywende dermwand nie – en dat die uitslag selfs beter is as waarop ons gehoop het. Ek was reg om T1 en selfs T2 kanker as goeie nuus te beskou. Die finale stadiëring is toe heelwat minder – TisN0M0. Ek is in die sewende hemel! En soveel mense juig saam met my!
Dit het my eers later getref watter groot verantwoordelikheid Ettienne op sy skouers geneem het deur hierdie ervaring met my te deel voor die uitslag bekend was. As hy dit nie geGLO het nie en nie VOORAF vir my vertel het nie, sou dit geen trefkrag gehad het nie. Hy kon maklik besluit het om eerder ‘n professionele afstand te handhaaf en stil te bly. Maar dan sou dit wys dat hy nie geloof het in wat die Here vir hom gesê het nie.
Hierdie deel van my storie tref so baie mense. Dalk leer dit ons dat ons definisie van geloof nie goed genoeg is nie. Dat as ‘n mens GLO, jy geen back doors moet oophou nie. Dat ‘n mens nie net moet HOOP dat iets waar is nie, maar dat jy dit moet GLO, soos ‘n kindjie wat sonder twyfel in die tandemuis glo. Dit is seker een van die moeilikste opdragte waarmee ek daagliks worstel, maar wat ek met my hand in Syne so graag wil bemeester. Daar is soveel wonderlike mense in my lewe wat ‘n ongelooflike voorbeeld hierin stel – ek leer so baie.
Soveel vriende het teksverse vir my gestuur en God het in my Bybelstudie my self daarheen gelei – dat daar ‘n groter doel met dit alles is. Dat Hy my wil gebruik. Ek weet nog nie presies hoe nie, maar ek is vir die eerste keer in my lewe oop daarvoor. En toe sê Ettienne na alles vir my die volgende:
“Daardie dag na die CT-scan toe ons in die gang gestaan het, het ek vir die Here gevra wat se goed kan kom uit so ‘n jong vrou soos jy wat kanker kry. Sy antwoord (in my gedagtes) was dat die uitslag meer sal bereik as die kanker. Dalk een van die redes hoekom ek geglo het dat die kanker nie baie diep sou wees nie. Nou het die feit dat jy gehoor het dit is kanker baie meer laat gebeur as wat die kanker self ooit sal regkry. Prys die Here vir Sy goedheid en vooruitsiendheid.”
Hierdie feit, dat iets goeds hieruit gaan kom, is reeds soveel keer bevestig. Ek glo dit!
Ek het ingepak vir 5 dae in die saal. Vyf funky sweetpakbroeke, 5 mooi T-shirts en toppies, 5 pare geskenkies vir die kinders wat elke dag kom kuier. Op Donderdagmiddag, na twee 24-ure in Hoësorg se wit jurkies, kry ek die groen lig dat ek maar saal D toe kan skuif. Al die pype behalwe die drip is uit en dit beteken ek is sterk genoeg vir ‘n gewone saal. Teen hierdie tyd loop ek al heerlik op en af in die gang. Vrydag-laatoggend sê Ettienne as die drip uitkom is daar geen rede om my verder in die hospitaal te hou nie – en ek word middagtyd ontslaan na net een dag in die saal. Net vier dae (eintlik drie 24 ure!) na my operasie. Vier pakkies van alles kom toe net so ongebruik terug huistoe. (Ek het moeite om die kinders uit die oorblywende verrassingspakkies te hou!)
Die krag en die energie en die spoedige herstel is ALLES van Hom af. Dit kon so maklik anders wees! Ek kon nog nooit so “dweperig” wees om dit te sê nie, maar ek wil en ek moet dit uitbasuin: PRYS DIE HERE! Nie omdat ek dit verdien nie, maar net uit Sy genade!
* Ek het so baie geleer oor die kragtige werking van gebed – en ek het nog so baie om te leer. Sodra ek vir die topic opgewasse voel, sal ek meer vertel van my ervarings. Dit is vir my so belangrik om terugvoer te kry oor hierdie dinge, omdat ek meer wil weet en meer wil leer. As jy wat hier lees voel dat ek iets verkeerd verstaan of interpreteer, of as jy iets kan byvoeg of vertel, maak asseblief so?!
Mediese verslag
Vir die mediese mense:
Die poliep wat tydens die koloskopie verwyder is, was ongeveer 20% adenokarsenoom (vir die nie-mediese mense, dit is dus 20% vol kwaadaardigheid!). Die diagnose van die derm en weefsel wat tydens die operasie verwyder is, lees soos volg:
* Lae anterior reseksie – oorblywende gedeelte van die villeuse adenoom met fokale hoëgraadse displasie, geen infiltrerende maligniteit sigbaar nie. Perikoliese limfnodes – geen metastase 0/6.
* Distale doughnut – normale kolorektale wand, tumor dus volledig verwyder.
Die langtermyn risiko om van die kanker iets oor te kom is minder as 3%. Geen verdere behandeling soos chemoterapie of bestraling is nodig nie. As alles volgens plan verloop word die stoma (sakkie) op 11 Desember gesluit.
[...] laat ‘n pragtige stukkie persoonlike getuienis van Ettienne, aan haar oor, om eendag met julle te [...]
How great is our God Sing with me how great is our(MY)God!!