Wat ‘n jaar! Persoonlik was dit ‘n annus horribilis. Maar, soos ek al terdeë geleer het hierdie jaar: Alles is relatief.
Vanjaar het soveel mense se ergste nagmerries waar geword. Die dood van twee dogtertjies se pappa (en myne ook), die verdrinking van ‘n seuntjie, ‘n boetie en sussie wat saam sterf, die angs van ‘n geboorte wat verkeerd loop, ‘n klein seuntjie wat kwyn van ‘n jaar se chemoterapie, ‘n klein dogtertjie met ‘n ongediagnoseerde siekte in ICU … (voeg gerus jou eie verskrikkings by!)
Dit is maklik om swartgallig te voel oor die lewe en die onregverdigheid van alles. Dat sulke verskriklikhede met goeie mense kan gebeur. As jy nie baie stewig in God geanker is nie, is ek seker daarvan dat dit maklik is om Hom te bevraagteken. Ek het al telkemale gewonder hoe ‘n God van liefde sulke dinge kan toelaat. Dalk is dit ‘n normale deel van die rouproses waaroor ‘n mens vinniger kom as jy ‘n lewende verhouding met Hom het. Ek weet nie.
Wat ek wel glo is dat God ‘n God van liefde en goedheid en genade is – en dat niks wat kwaad en verkeerd is, van Hom af kom nie. Ons leef in die sondige wêreld wat Adam en Eva namens ons gekies het. Ons leef NIE in die paradys waar ons vry is van die wêreld se aanslag nie. MAAR God vat die Satan se werke en vorm dit in iets beeldskoons.
Maar dan lees ek weer iets wat my laat dink dat ek dalk verkeerd is. Iets soos dat God sekere tragedies oor mense se pad stuur om hulle iets daaruit te leer – of selfs te straf. En net daarna, op ander plekke, lees ek weer dat hierdie dinge NIE van Hom af kom nie. Hoe dan nou?! As jy al langer as ek met hierdie vraagstuk worstel en ‘n aanvaarbare antwoord vir jouself geformuleer het, skryf dit tog asseblief as ‘n “comment” op die blog!
Soos ek reeds gesê het is my persoonlike gevoel dat dié dinge nie van Hom af kom nie, maar dat Hy dit reeds oorwin het namens ons – en daarom selfs die lelikste tragedie kan vat en iets ongeloofliks daaruit kan laat groei. Dat hy in ons mees intense pyn en hartseer en verdriet wat Hy nie veroorsaak het nie, juis so naby aan ons is …
… Die woorde hierbo het ek ‘n paar dae gelede geskryf. Daarna sit ek langs ‘n kennis by ‘n verjaarsdagete – en sonder dat ek hierdie onsekerheid met haar deel, vertel sy my van ‘n dierbare wat baie siek in die hospitaal is, en dat sy vrou vashou aan die beloftes in Psalm 91. Sy sê sy glo dat die Satan “peste en plae” oor ons lewens bring en dat God dit toelaat EN dit ten goede kan laat meewerk, maar dat dit NIE van Hom af kom nie.
Ek onthou dat Psalm 91 vir my ook baie beteken het, en toe ek tuis kom, gaan soek ek dit op:
“…Dit is Hy wat jou uit die voeëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte. Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek, Sy trou beskerm jou aan alle kante. Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie … Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie. Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy dood trap … Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel. ‘n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.”
Ons is partykeer net so blind vir Sy teenwoordigheid en smagting om ons te troos en te versterk. Ek kies so dikwels om Hom eerder kwalik te neem omdat Hy dit toegelaat het, as wat ek Sy lof besing omdat hy deur dit alles my Rots en Beskermer en Vertrooster is.
Wat ek ook geleer het in die laaste tyd is dat ‘n mens minder geneig is om God te bevraagteken wanneer jy baie naby aan Hom leef. Dan is jy so bewus van sy Almagtigheid en Liefde en absolute Goedheid, dat jy Hom moeilik kwalik neem vir iets wat skeefloop.
Daar was al talle verskriklikhede in my lewe, maar nog nooit was ek in staat om dit so “goed” te hanteer as hierdie keer nie. Dis asof ek ‘n konstante behoefte het om God se prys – en dan besef ek dit klink seker of ek van my kop af geraak het! Ek was al in ‘n posisie waar ek na so ‘n jubelende vrou gekyk het en gedink het “Hierdie vrou is van haar sinne beroof!” Ek verstaan dit self nie lekker nie, maar ek hou daarvan! Dis ongelooflik om so connected te wees!
‘n Vriendin het vir my ‘n boek gegee om te lees – Geheimenisse van die Hemel Ontsluit deur Kowie Rossouw – wat my oë letterlik en figuurlik oop gemaak het vir God se Almag en Goedheid en Liefde. Hoe oneindig lief Hy elkeen van ons het, hoe baie Hy ons wil gee, en hoe naby aan ons Hy wil wees. Ons breintjies is heeltemal te nietig om die grootheid van sy skepping en liefde te besef of te verstaan, hoe alles inmekaar pas, hoe perfek Hy dit alles orkestreer. Hy is so, so, so MAGTIG – en niks, maar absoluut niks is by Hom onmoontlik nie. As jy na Sy skepping kyk, moet dit tog vir jou sin maak. Hy wat dit alles tot stand gebring het in die fynste detail, waarom sal Hy nie vir jou ‘n wonderwerk kan laat gebeur nie? Vir Hom is dit peanuts! Ons moet net vra en glo – so eenvoudig soos dit.
En dit bring my by die onderwerp van Gebed. Ek, wat voorheen nie ‘n sterk believer in die krag van gebed was nie, staan verstom oor die kragtige werking daarvan. God wil ons gebede verhoor. Regtig!
Gister skryf ‘n Facebook-vriend, Joggie Rautenbach, wat self deur die trauma van kanker is, dié woorde:
“Die Bybel sê dinge wat ons met ons vleeslike oë sien is verbygaande. Dit beteken hulle kan verander. Al wat nodig is, is ‘n tikkie van God se guns om enige situasie heeltemal in ‘n oogwink te verander. God is aan jou kant. Niks is vir Hom te moeilik nie. Werp al jou laste op Hom sodat jy vry van bekommernis, frustrasie of mismoedigheid kan leef in die wete dat God in beheer van alles is …”
Ek is ‘n lewende voorbeeld van die krag van gebed. En ek is nie naasteby die enigste een nie. Gaan lees gerus op www.wegenwaarheid.wordpress.com (Dr. Ettienne Myburgh se blog) van klein Carla (na wie ek in die intro van hierdie stukkie verwys het), ‘n dogtertjie vir wie daar geen hoop meer was nie, en vir wie God dramaties genesing gegee het.
En kom ons hou aan om in die nuwe jaar met vaste geloof en vertroue in God te bid vir dié wat genesing nodig het? Soos klein Ora Cilliers, ‘n beeldskone nuwe babatjie met ‘n breinbesering, wat reeds in soveel mense se harte gekruip het en vir wie ons algehele herstel van God af vra.
En as ons uit God se hand ontvang het, kom ons onthou om Hom te loof en prys en raak te sien dat die oplossing of genesing of herstel direk van Hom af kom, en nie sommer toevallig is nie. Dit gebeur so maklik dat ‘n gebed verhoor word en ‘n mens se eerste gedagte is “Dankie tog, dit was toe nooit so erg nie!” Maar dit was! En dit kon erger gewees het! Dis nie sommer toevallig dat dinge reg in plek val nie. Dis ‘n gebed verhoor deur God.
My voorneme vir 2010 is om met soveel meer geloof en vertroue te BID. Want ek het met my eie oë gesien: Daar is niks so kragtig nie!
Sanet
Toe jy hierdie stuk geskryf het en gevra het hoekom ‘n goeie God slegte goed toelaat, het ek ook weer daaroor gewonder. Ek moet sê dat Hy vir my in die laaste twee of drie weke weer Amazing goed geleer het. Die grootste deel van jou antwoord lê opgesluit in die intense haat wat Satan vir God en Sy Seun, Jesus het en hoe hy alke geleentheid gebruik om vir God te wys hoe ongehoorsaam en sleg Sy kinders is. Die duiwel eis dan by God om ons te sif ( Sien Luk 22:31 – 32). Die meeste van die tyd sal God die aanslae keer tensy Hy weet dat dit tot ons en ander se groei in Sy koninkryk sal lei. Dan sal Hy ons versterk en ondersteun om dit te deurstaan.
Hou my Blog dop.
Ettienne
[...] skryf Whoshallifear op haar blog: “…dat God sekere tragedies oor mense se pad stuur om hulle iets daaruit te leer – of [...]
Ettienne, ek gaan amein op wat jy hier geskryf het. Ons word so gesif, maar ons word nie bo ons kragte gesif nie. Satan kla ons aan daagliks, maar God se genade en liefde is so groot vir ons dat Hy Sy Seun vir ons gegee het om aan ‘n houtkruis te sterf. Hoe dieper ons stryd, hoe groter moet ons lofprysing wees, want lofprysing maak die werke van die duisternis swakker.