Feeds:
Bydraes
Kommentaar

Die mens is ‘n ongelooflike wese – vol teenstrydighede. Aan die een kant is ons so broos, breekbaar en sterflik klein. En aan die ander kant het ons ongelooflike krag, deursettingsvermoë, die vermoë om terug te bons as ons soos ‘n balletjie teen ‘n muur vasgegooi word.

Vir diegene wat nou eers begin lees en nie weet waarvan ek praat nie: Ek was siek en ek het gesond geword. En na my sal nog miljoene mense daagliks worstel met slegte nuus en siekte en sterflikheid.

Maar al weet ek dit is so, was dit tog vir my erg om na my siekte te beleef hoe soveel bekendes in die laaste paar maande deur hel gegaan het. Vriende wat hul babadogtertjie aan die dood afgestaan het (lees hieronder), ‘n skoolvriend wat sy vrou en die ma van sy twee klein kindertjies skielik en skokkend verloor het, ‘n vriendin wat die skok van ‘n ontroue man moet oorleef, en nog soveel ander stories.

Soms voel dit of ek dit te persoonlik opneem. Dit voel op ‘n manier of ek nou my beurt gehad het en nie meer enige slegte nuus, nie eens vérlangs, wil hoor nie! Ek en die mense om my verdien ‘n bietjie rus van slegte nuus, dan nie?

Nee! As dit nie met my of met jou gebeur nie, met wie dan? As die antwoord is “met niemand nie?”, dan is ons op die verkeerde plek, want die wêreld het nog nooit probeer voorgee om die paradys te wees nie. Selfs nie as jy ‘n persoonlike verhouding met Hom het, kry jy outomaties ‘n package deal met ‘n vrywarings voucher wat jou beskerm teen swaarkry nie.

In die fliek Shadowlands sê C.S. Lewis se karakter dat ons bloot leë houers sal bly as dit nie vir pyn en lyding was nie. As dit met my goed gaan, die boeke klop, my huwelik sterk staan, ek gesond is en my kinders redelik gemanierd en aangepas, waaroor gesels ek met die mense om my? Oor die Woolworths uitverkoping, S0-en-so se man wat ‘n affair het, die spul naskoolse aktiwiteite waarna jy moet jaag, Boetie se tandekry-pyne en die kampnaweek wat uitgereën het?

As dit net fantasties met ‘n mens gaan, gesels jy met jou vriendinne oor dieper dinge? Bid jy saam met iemand wat swaarkry? Soek jy met ywer na God se wil? Is jy fanaties oor die tyd wat jy afstaan aan die Here? Ek is seker dis nie net ek nie, maar ek kan ongelukkig nie positief op hierdie vrae antwoord nie! Ek wéét dat ek juis gevorm word en groei wanneer ek so bietjie sukkel en twyfel en hartseer of bekommerd is. Vir my is dit makliker om myself ‘n gelowige te noem wanneer dit met my sleg gaan as wanneer dit goed gaan! En daarin lê my persoonlike toets: om passievol en lewendig in verwondering te bly oor God se grootheid en mag, selfs al gaan dit met my góéd!

Hierdie reis het begin met ‘n louwarm Christen wat skoknuus ontvang het. Dit eindig met ‘n vuurwarm Christen waarmee dit goed gaan – maar wat party dae sukkel om die vuur gestook te hou! Ek hoop dat my storie vir iemand, al is dit net een mens, ‘n verskil gemaak het. Dat daardie een mens daarin die bewyse kon kry dat God regtig omgee, regtig saam met jou is elke treetjie van die lewenspad, dat Hy oor en oor sal probeer en nooit moed opgee met jou nie, dat Hy luister na jou gebede, so ontsettend graag ‘n daaglikse gesprek met jou wil voer, en dat Hy dwarsdeur al die swaarkry en die voorspoed nooit verander nie – Hy is!

Mag elke mens wat hier lees en besig is met swaarkry, met God se krag en genade weet dat hy/sy weer sal kan terugbons. Mag elkeen wat hier lees en besig is met allerhande ander dingetjies (wat daarop dui dat dit met jou goed gaan), met God se krag en genade weet dat dit net GENADE is! Nie omdat jy so hard werk, of omdat jy ou klere vir die armes gaan aflaai het, of omdat jy Sondagskool gee nie, maar net omdat God so genadig is. Leef daarom in dankbaarheid! Of probeer!

Dit was vreesaanjaend maar ‘n voorreg om my storie te deel. Dankie dat jy dit gelees het. Mag jy waardevolle lesse leer wanneer dit met jou sleg gaan. En mag die lesse in jou hart voortleef wanneer dit met jou goed gaan. Dis die einde van my geskrewe storie – vir nou. Totsiens!

Ora Cilliers is die oggendure in haar bedjie oorlede. Dra asseblief Oloff en Rozanne en hulle families en vriende, wat so betrokke was by Ora en haar so intens liefgehad het, aan die Here op. Hulle het bomenslike krag nodig om hierdie reuse verlies, en al die verliese wat dit voorafgegaan het, te verwerk. Ora het duisende mense se harte aangeraak – en ons sal haar so mis!

Ora, sonder die voedingsbuis in haar neus

Ora en haar mamma Rozanne

“Ora sterk baie goed aan! Die operasie was ‘n sukses alhoewel dit ‘n challenge vir die dokters was omdat sy so klein is. Hulle het ook grommets ingesit indien ons later Hyperbaric Oxygen Treatment wil oorweeg.

Ek het kontak gemaak met ‘n vrou in Amerika wat ‘n blog het oor ‘n seuntjie wat ook seergekry het met geboorte. Hulle het great resultate gekry met die O2 behandeling. Die seuntjie se naam is Maceo Mckay. (Kyk gerus by http://www.maceomckay.com.)

Die Victory Kerk in Port Elizabeth het ‘n tenk wat hulle vir ‘n outisiese seun gebruik. Hulle het ons 10 gratis sessies aangebied!

Ora het properly begin huil waar sy voorheen net hard asemgehaal het! Sy het voor die operasie al begin geluidjies maak en daarna baie gehuil. Alhoewel dit ‘n positiewe verbetering is, was ons baie bekommerd dat sy dalk geweldige pyn ervaar. Dit is hartverskeurend om so ‘n kleine lyfie so hulpeloos te sien en ons probeer om nie te veel te dink oor haar wêreld en wat sy moontlik ervaar nie. Sy is neurologies doof en moonlik cortically blind – beide verwys na breinbesering. Fisiologies is daar geen fout met haar oë of ore nie.

Die voeding wat ons nou doen word direk in die magie via ‘n pegg gevoer, waar sy voorheen ‘n pypie deur die neusie gehad het tot in die dunderm. Om Ora te hanteer is nou natuurlik baie makliker en dis fantasties om haar te kan optel sonder ‘n alewige klomp pype wat moet saam. Dit wil ook voorkom of daar beweging in die tongetjie is – alhoewel die verbetering net aan die een kant is, is dit darem vordering. As die klein mensie net kan begin suig, sluk en haar ogies knip sal dit fantasties wees. Ons weet daar is nog maar baie ander dingetjies, maar ons vat dit met “baby steps”, dag vir dag!!

Dankie vir almal se belangstelling en gebede, dit beteken vir al drie van ons verskriklik baie. Ons besef net elke dag meer en meer dat Ora al klaar so baie mense in haar kort maar woeste bestaan aangeraak en op hul knieë gebring het.

Groete,

Rozanne en Oloff

Ora ontslaan

Jammer vir die lang wag vir nuus oor Ora. Sy is Maandag uit die hospitaal ontslaan en dit gaan BAIE goed met haar. Sy kry haar voedings via die “peg” in haar magie – en alles verloop vlot.

Ora is regtig ‘n klein vegtertjie – dit is ‘n wonderwerk dat sy so goed herstel het nadat daar nie veel hoop vir haar was ‘n paar weke terug nie. Na haar geboorte kon sy nie geluidjies maak of huil nie, en die laaste paar weke het sy begin om uit volle bors te huil! (Nóg n wonderwerk!) Behalwe vir hierdie goeie tekens het sy ook begin om te beweeg en haar beentjies te skop!

God is almagtig en tot absoluut enige iets in staat – meer as wat ons kan glo of bid. Vra dus saam met Oloff en Rozanne vir Hom om die “ongelooflike” met Ora se brein en lyfie te verrig? Dat sy sal kan sien en hoor en stap en gesels. Enige iets is moontlik by God!

Ora raak soveel mense se harte aan – en God het ‘n groot plan met haar lewe. Hou haar asseblief in jou gedagtes en gebede?

Uit die ICU

Dit gaan GOED met Ora. Sy is uit die ICU en in ‘n gewone saal opgeneem.

Volgens Rozanne het die operasie goed afgeloop. Die chirurg het ook “grommets” in haar oortjies gesit indien hulle “Hyperbaric O2″ behandeling wil doen. Ora het weer begin borsmelk kry en sal teen Sondag deur die gastrostomie-buis voeding kry. Sy kry morfien vir haar pyn.

Rozanne sê haar veggees en dapperheid is ‘n inspirasie!

Bly asseblief bid vir Ora en haar gesin – daar is sóveel klein en groot bekommernisse, krisisse en probleme op hierdie pad wat hulle stap.

Rozanne het die volgende woorde van ‘n vriendin gekry:

” God blessed you with Ora. She is His best kind of angel. He chose you to take care of her while she spends time on this earth. And while you take care of her, Ora will teach you a lesson about yourself, something that God wanted you to see. She will show you the strength of your capacity to love unconditionally. You would never have known your capacity to love without her here to show you. It takes a remarkable woman (and man) to be a mother (and father) like you. God knew how remarkable you are and thats why he put Ora in your hands and heart.”

Mag Rozanne en Oloff God se teenwoordigheid en vrede elke oomblik beleef.

Operasie suksesvol!

Ora se operasie was suksesvol! Sy slaap vanaand in die ICU. Ek het hopelik later meer nuus. Baie, baie dankie intussen vir elke gebed!

Operasie

Ora

Ora gister in die hospitaal

 

Die operasie is geskeduleer vir enige tyd tussen 12h00 en 14h00 vanmiddag by Rooikruis Hospitaal. Bid asseblief vir Ora?