* Vir onbekendes wat met soveel passie my aan die Here opdra. Daar is so baie – dit gee my hoendervleis. Vandag wil ek spesiaal dankie sê vir Augustine en Doortjie. Augustine is ‘n vriendin se “nanny” wat ek nog net ‘n paar keer skrams gesien het, maar sy en Doortjie (haar nog nooit ontmoet nie!) en hul vriendinne en hul bybelstudie-groepies het met soveel geesdrif vir my gebid – van Kraaifontein tot in Kampsbaai! Dankie dat julle so betrokke raak by ander mense se leed – dit sê SO baie van jul geloof en naasteliefde!
* Kinders – wat nie minder stout is omdat hulle Mamma siek is nie, nie minder snags wakker word en wil kom inkruip nie. Wat steeds tantrums gooi en ‘n dwars antwoord gee. Hoe “siek en swak” sou ek nie voel as hulle skielik in engeltjies verander het nie!
* ‘n Man wat agter my staan – sê nou net ek moes as enkelouer alleen hierdeur kom? Ek is so dankbaar vir iemand wat lief is vir my al gebeur wat. En so dankbaar dat ek dit met sekerheid kan weet.
* Familie – ek weet my ma en susters sou enige iets doen om my hierdie siekte te spaar. Dis goed om dit te weet. Hulle huil harder en is blyer oor goeie nuus as ek!
* Vriende en kennisse – wat soos een man opruk en bid en kos aflewer en ondersteun en sms en e-mail en en en … Dit beteken so ongelooflik baie om te weet dat ek vir elkeen van hulle spesiaal is.
* Onbekendes – wat ek skrams ken, een of twee keer raakgeloop het of nog glad nie ontmoet het nie, wat aangeraak is deur my siekte en wat deur die Here gebruik word! Dit is “awesome” (soos Mila sal sê) om ‘n sms te kry van ‘n “vreemdeling” wat niks van my gemoedstoestand weet nie, maar wat presies die regte woorde vir my stuur …
* Taxi ry – dit is SO ‘n voorreg om sonder pyn of skeet of hartseer in jou kar te kan klim en “banale dinge” te KAN doen, soos om melk en kaas te gaan koop, gou by die videowinkel in te hardloop, skool toe te jaag om Mila betyds op te laai, vir ‘n halfuur in die son te sit en wag vir die dans om te begin …
* Slim mense – wat so aan my kant is dat hulle oplees en navors en praat oor hoe om dié ding medies op die beste manier te hanteer. My fighter-swaer van Kanada het my binne sekondes met ‘n vuurpeleton van feite gebombardeer, kenners geraadpleeg, Up-to-Date artikels ge-email. My man, op wie ek 100% vertrou om namens my die beste mediese besluite te neem. My chirurg wat ‘n nuwe deur laat oopgaan het. Die prof by UCT wat weet wat hy doen …
* Mense wat my nie vermy nie. Ek verstaan heeltemal jou ongemak by die skoolhek – “moet ek iets sê of sal dit haar affronteer?” Ek het nog altyd ook weggeskram van dinge wat ander mense se “persoonlike sake” is. Maar dankie vir jou wat direk kom uitvra, wat hardop in trane uitbars en wat my openlik ‘n druk kom gee. Ek leer iets by julle. En ek sal nooit weer my afstand hou van ander mense se pyn nie!
* Mense wat nie ‘n issue van alles maak nie. Net soos dit lekker is as iemand spontaan kom uitvra, so lekker is dit as jy iemand toevallig raakloop en praat oor alledaagse ditjies en datjies en met die omdraai voel jy net sy hand op jou skouer en “Sterkte hoor!” voor hy wegstap.
* Geestelike mentors – mense wat ‘n lang pad met die Here stap en by wie ek soveel leer oor GLO. Mense by wie ek in die laaste week geleer het dat God my WIL gesond maak, dat ek maar vir hom direk kan VRA daarvoor en dat ek volkome kan GLO dat hy my SAL help. Daar is mense wat vir my kom bid, mense wat teksverse stuur, en mense wat praat oor die Here – en elkeen van hulle is ‘n vlymskerp instrument in God se hand. God stuur hulle reguit na my toe. En dis duidelik dat hy gewone mense vir sy werk inspan. Dankie!
* ‘n Lekker reunie! Ek mis my 20 jaar skool-reunie die eerste naweek in November. Maar my siekte het ‘n heel ander een aan die gang gesit. Soos die nuus versprei, kry ek oproepe en sms’e van soveel mense wat ek jare laas gesien of van gehoor het. Dit is só lekker dat ek eintlik glad nie tydens die kosbare gesprekke oor siekte wil praat nie!
* Stories van hoop – daar is SOVEEL mense wat met hierdie siekte saamleef en dit soveel erger het as ek. Dit is ongelooflik om met so iemand te gesels en te besef hoeveel nader dit hulle aan God gebring het. Ek het soveel by ‘n Ou Vriend geleer – wat ten spyte van ontsettende teenslae aanhou veg en op God gefokus bly. Hy sê mens gebruik nie die K-woord nie – jy gee DIE DING nie eens ‘n naam nie! Ek sal probeer …
* Mense (party ken ek, ander ken ek glad nie) wat belangstel en soveel liefde en goeie “vibes” my kant toe stuur. Al die sms’e, emails, Facebook boodskappe, “comments” op die blog, oproepe, aanbiedings vir hulp, kos aflewerings, geskenke, blomme … Ek waardeer elke gebaar ontsettend en ek skryf al die mooi boodskappe neer. As ek nie reply nie, vergewe my asseblief? Ek kom net nie by alles uit op die oomblik nie!
* Vir mense wat ‘n passie het vir wat hulle doen. Die mense by Hoësorg in Panorama is ongelooflik. Dankie aan elkeen (veral suster Ilse) wat my so mooi versorg en ondersteun het – en werklik saam gejuig het toe die positiewe uitslag kom.
* Vir “my chirurg” – Ettienne Myburgh – wat ‘n besonderse MENS en besonderse chirurg is. Ek sou nie hierdie pad saam met enige iemand anders wou stap nie en ek sê vir die Here dankie dat hy Ettienne as sy instrument gebruik. Ek sal later, met sy toestemming, skryf oor elke geseënde ervaring wat ons op hierdie pad gedeel het.
* Dat dit EK is wat hierdeur gaan, en nie een van my kinders nie. Dit moet so moeilik wees om pyn en ongemak aan ‘n kind te verduidelik, wat nie self kan sin maak uit sy omstandighede nie. Kyk gerus na http://www.krokkenoster.wordpress.com.
* Om by die HUIS te wees, in my eie bed te slaap, my kinders te sien wat om my speel en baklei en lag en huil, om sonder ‘n voedingsbuis in my neus ‘n lekker hap kos of sluk tee te vat, om te kan opstaan en sonder ‘n kateter self in die toilet te gaan piepie, om my eie pynpille in te sluk sonder ‘n hinderlike drip in my hand, om weer in die Spar in te stap om ‘n brood te koop … Elke nietigheid wat eintlik so ‘n reuse voorreg is. Dis suiwer vreugde en genade! (En “watch this space” oor 6 weke as die “sakkie” afkom!)
Dis Karin, Wikus (wat by Hettie was) se ma. Ek wil net se ek dink aan jou en bid vir julle. Met so wonderlike gesindheid kan alles net goed gaan. Baie sterkte vir jou.
Sanet dit is vir my belangrik dat jy moet weet dat ons hier in Patensie vir jou in die besonder,maar ook vir Org,die kinders,Kleintjie en jou Susters bid. Mag die Here jou more, op ons spesiale vriend se verjaarsdag, toevou in sy groot genade. Ek weet Hy sal jou nooit verlaat nie en jou dra deur hierdie moeilike tyd.
Liefdegroete
Liesbet
Ekke is ook n onbekende, maar het gelees en sal jou opdra aan n baaaaie Genadige God wat jou elke dag die krag sal gee om die pad te stap……Eendag as jy terug kyk gaan jy al die hoekoms en waaroms verstaan.
Sjoe die ding laat ‘n mens met nuwe oe na die lewe en alledaagse vanselfsprekende dinge kykJy’s ‘n ster en weereens dankie vir die meedeling……ssos wat jy deel groei jy!!!!!!!!!!!!!
Hi, Ek sien dat die n redelike ou post is, maar dit het baie vir my beteken, ja die Here is so goed vir mens, en nietemin is daar so baie dinge waaroor mens (ek) so gou is om oor te kla. Ek het net baie vinnig deur die post gelees, en wonder hoe dit nou met jou gaan?
Als van die beste! En ek bid vir jou.
En dankie vir jou positiewe bydrae, jys n model!