… laat ons vinniger kan ry!
Môre-oggend douvoordag val ons in die pad vir ‘n vakansie wat ieder en elk van ons VERDIEN. Ek dink nie ons het al ooit ‘n vakansie so nodig gehad nie.
Org het in die laaste drie maande en veral die laaste paar weke geweldig hard gewerk – en tussendeur dokter, sielkundige, ma en pa-rolle by die huis vervul, terwyl hyself rasend van bekommernis was (en hard probeer en dikwels gefaal het om voor te berei vir volgende jaar se Two Oceans ook nog). Ek weer kan nie wag nie om oor iets anders as siekte te dink en te praat nie, om liefde en aandag aan my kinders te gee, om lekker Bybelstudie te doen met die klank van branders buite my kamervenster, om ‘n gesonde kleurtjie in die son te kry en ‘n kilogram of twee op te tel terwyl ek lui deur ‘n tydskrif blaai. Mila het ‘n bietjie diep gesels nodig – oor al die dinge wat haar klein gemoedjie moes hoor en verwerk, dikwels sonder dat ons eens daarvan bewus was. En ‘n bietjie aksie ook – stap, fietsry, swem, alles behalwe Disney Channel! En Stef? Wel hy is nooit ongeneë vir ‘n bietjie aksie en liefde nie.
As ek baie verveeld is, sal ek vanaf St Francisbaai ietsie op die blog sit – as my ma se rekenaar toevallig aan is. Indien nie, verskoon my asseblief vir so 2 weke? En weet dat ek oorloop van dankbaarheid vir elkeen wat hier lees en my in hul gedagtes en gebede hou. Dit gaan goed! En as ek terugkom, sal dit selfs beter gaan!
Ek kan nie wag vir 2010 nie. “I’ve got a feeling … that this year’s gonna be a good year!”
Lewer kommentaar