Hoe dit gebeur het ...
Ek is VERSKRIKLIK privaat. Kry dit net-net reg om so af en toe my ginekoloog onder dwang te besoek. Daarom is dit seker verstaanbaar dat dit vir my moeilik gaan wees om openlik inligting oor my siekte te verskaf. Maar ek sal my bes doen – want om stil te bly hieroor gee ek die gewas net nog meer krag. En ek gun die vieslike ou ding absoluut geen lewensruimte en suurstof nie!
So, ek sal so reguit wees as wat my persoonlikheid dit toelaat. Ek wil nie hê enige van my geliefdes of vriende moet dieselfde ding oorkom nie. Daarom is dit belangrik om daaroor te praat.
So, here goes:
Met albei my swangerskappe het ek ‘n klein hemorhoid ontwikkel wat ‘n bietjie gebloei het wanneer ek toilet toe gaan. Telkens het dit opgehou wanneer die baba gebore is. Toe ek dus in April vanjaar, meer as ‘n jaar na Stef se geboorte, weer ‘n bietjie bloeding sien, het my moed in my skoene gesak. Dit het beteken dat ek seker een of ander tyd vir ‘n ondersoek moet gaan en daarvoor het ek glad nie kans gesien nie. Veral omdat Org ‘n narkotiseur is en amper al die dokters en verpleegsters by die plaaslike hospitale waar hy werk, ken!
Toe die bloeding erger begin word in Mei/Junie, het ek selfs vir hom gesê dat ek op een voorwaarde vir ‘n ondersoek sal gaan, en dit is as dit in die suidelike voorstede by ‘n onbekende dokter is! Hy was nonchalant: “Aaag, hulle is mos gewoond daaraan, man.” Maar dit werk nie so vir iemand soos ek nie. Want EK is nie daaraan gewoond nie. En as dit dan nou moet, sal ek eerder verder ry na ‘n onbekende dokter wat ek nooit weer daarna by Colcacchio oor ‘n pizza of in die ry by Spar gaan raakloop nie!
In Mei was ek vir my jaarlikse ondersoek by die ginekoloog, wat my aangeraai het om ‘n afspraak te maak by ‘n chirurg. Ek het die middag met ‘n swaar hart gebel vir ‘n afspraak by dieselfde chirurg wat my in die hospitaal behandel het toe ek in Maart vanjaar met erge mastitis in die hospitaal opgeneem is (ja, Stef het my liederlik beskadig!) en op die laaste hospitaal-dag my skielik infektiewe galblaas verwyder het! Hulle kon my eers in Julie, tydens die skoolvakansie, ‘n afspraak gee. Wat ‘n verligting! Ons sou oor daardie tyd in Knysna wees. Dankie tog ek kon dit vir nog ‘n rukkie lank uitstel, het ek gedink. Ek het vir die sekretaresse gesê dat ek na die vakansie weer sou bel. Maar net na die skole heropen het, op 1 Augustus, is my pa skielik oorlede (later meer hieroor). ‘n Bietjie (al het dit al meer en meer geword) bloed in die toilet was die heel laaste ding op my brein.
Later in Augustus het die simptome begin vererger. Ek wou meer gereeld toilet toe gaan, die bloeding was hewiger en my maag was elke dag effens opgeswel en ongemaklik. Nie te erg nie, net so ‘n bietjie, en ek het die simptome glad nie met mekaar verbind nie. Ek het weer met ‘n swaar hart die foon opgetel – en ‘n afspraak gemaak. Die chirurg kon my eers op Woensdag 7 Oktober sien. Iewers gedurende hierdie tyd het ek ‘n aanvoeling gehad dat iets nie reg is nie, ten spyte van die feit dat ek blakend gesond gevoel het. Ek het een dag voor die spieel in die badkamer met my tandeborsel gestaan en vir Org gesê: “Ek WEET hier is iets fout. Ek voel net nie gesond nie.”
7 Oktober het aangebreek. Hartkloppings. Gedagtes aan hoe verskriklik degrading en embarrassing die ondersoek gaan wees. (Boonop by ‘n aantreklike chirurg nie veel ouer as ek nie!) In sy spreekkamer het hy my gerus gestel dat my kanse amper nul is dat dit enige iets anders as ‘n hemorhoid is. Maar tydens die ondersoek is dit toe duidelik dat ‘n hemorhoid die laaste ding was waaroor ek my hoef te bekommer. Hy het ‘n poliep verder op in die dermkanaal gewaar. Weereens was die kans dat die poliep enige iets ergers as ‘n gewone goedaardige gewassie (wat amper die helfte van ons glo in elk geval onbewustelik mee rondloop) was, amper nul. Hy wou die volgende dag ‘n kolonoskopie doen om seker te maak en sommer ook die poliep tjoef-tjaf uit te haal.
(Net ter agtergrond, die risiko-faktore van “iets erger” soos kanker is onder meer ‘n familiegeskiedenis van sulke kanker, mense wat bo 55 jaar oud is, rook, obees is en geen oefening inkry nie, asook mense wat ‘n hoëvet dieet het. Ek het nie ‘n enkele een van die risiko’s nie …)
Vir ‘n dag en half het ek die suur medisyne gedrink om my dermkanaal skoon te maak vir die prosedure. Die chirurg doen gewoonlik sy eie sedasies, maar het aangebied dat Org my en die ander twee (bejaarde) pasiënte in die Gastro-lab by Panorama Hospitaal sedeer. Ek was laaste op die lys. Die twee ooms voor my was blitsvinnig binne ‘n halfuur in en uit. “So maklik en vinnig,” het Org kom vertel. Toe dit my beurt is, het hy my “goed” gesedeer – ek weet van niks. Later, toe ek bykom, moes ek hoor dat my kolonoskopie ‘n uur en half lank geduur het – en hoe die chirurg gesukkel het om die poliep te verwyder. Dit was ‘n slegte teken …
Gevul met angs (elke sekond voel mos soos ‘n uur), het ek gehoor hoe Org se foon op Vrydag 9 Oktober om 12h00 lui. Ons het afgespreek dat hy met sy hande sou wys of dit goeie of slegte nuus is. Ek kon die wag net nie meer uitstaan nie!
Org se hand het eers ‘n horisontale beweging gemaak (“So-so” wou hy vir my wys) en toe het sy duim stadig afwaarts gedraai. Ek huil nie maklik nie. My suster sê altyd as ek huil, moet jy weet dis oor ‘n dood ernstige saak. Maar ek was verstaanbaar onmiddellik in histeriese trane. Ek kon dit nie glo nie. Die kanse was so skraal dat ek iets ernstigs sou makeer. Dit is net nie moontlik nie! Onmiddellik het ek geweet my sesde sintuig was reg. Dit was asof ek (weliswaar in hindsight) op ‘n dieper vlak ge”weet” het wat die nuus sou wees. Ek wóú net nie weet nie.
Klaar gepraat het Org verduidelik dat dit ‘n vileuse adenoom is waarvan 20% in ‘n infiltrerende adeno karsinoom geword het. Verskoon my leketaal en verduidelikings, maar sover ek kan agterkom, kan enige goedaardige vileuse adenoom binne 5 tot 10 jaar kwaadaardig begin word. Ek loop dus waarskynklik al lank daarmee rond. ‘n Groot deel daarvan is tydens die kolonoskopie verwyder, maar daar moes nou uitgevind word hoe ver die affêre homself in die dermwand ingegrawe het, en of dit nie dalk al dwarsdeur die dermwand gegroei het nie.
Later Vrydagmiddag is ek vir ‘n CT scan – wat gewys het daar is geen SIGBARE verspreiding na die groot organe soos lewer en longe nie. Dit is vreemd hoe dankbaar ‘n mens skielik word vir die kleinste positiewe teken. Ons naweek was gemaak!
Maandagoggend 12 Oktober is ek vir ‘n MRI scan. Dit sou ons hopelik ‘n beter idee gee van waarmee ons te doene het. Die kanker-infiltrering word in vier fases opgedeel afhangende van hoe ver dit gegroei het.
T1 is wanneer dit tot in die eerste lagie van die dermwand, oftewel die submucosa, gegroei het.
T2 is dit tot in die tweede lagie, ‘n spierlaag, oftewel die muscularis propria.
T3 is wanneer dit deur die muscularis propria tot in die subserosa gegroei het, waar daar vetselle en weefsel is wat die kankerselle na omliggende areas en die organe toe kan vervoer.
T4 is wanneer dit reeds deur die hele dermwand gegroei het en ander omliggende weefsel of organe begin binnedring het. (Maar gaan google eerder die feite as om jou op my verduideliking te verlaat, asseblief!)
Ons sou die uitslag eers Maandagaand of dalk Dinsdagoggend kry. Maar die radioloog het terwyl ons daar was solank die skanderings bekyk en vir Org verduidelik dat dit sover goed lyk. Org was teleurgesteld in die MRI – hy het gehoop dat dit amper 100% duidelik gaan kan wys hoe diep die ding lê. Ek was versigtig om te vinnig opgewonde oor die radioloog se voorlopige mening te voel.
Die chirurg het Maandag laatmiddag gebel. Org het so baie mediese terme gebruik en vrae gevra, dan lank geluister, en weer gepraat. Ek kon nie aflei of dit positief of negatief is nie. Toe vra hy die chirurg: “So waarmee het ons te doen?” Die chirurg se antwoord het hom (en later vir my) sleg laat voel oor ons oënskynklike ongeloof. Hy het gevra waarom ons dan die dam onder die eend uitruk en of ons dan getwyfel het dat dit enige iets anders as T1 sou wees? Hy was reg. Ek was dan die hele naweek so vol vrede en sonder vrees, ek wou nie twyfel nie. Maar die bevestiging van dit wat jy hoop en glo hou tog sy eie spanning in.
So, volgens die MRI lyk dit of dit ‘n T1 gewas is, met ‘n skraal moontlikheid van T2 (dit word glo eers 100% vasgestel as die ding uit is en onder ‘n mikroskoop lê). WONDERLIKE nuus, want bestraling en chemo is eers van T3 af deel van die behandeling.
Die beplande klein “beplanningsoperasie” wat ek Dinsdag 13 Oktober sou ondergaan en die groot operasie Vrydag 16 Oktober om die besmette deel van die derm uit te sny en dan die twee punte weer te las, is vir eers uitgestel. Want omdat dit waarskynklik T1 kanker is, is daar nou ‘n kans dat ‘n bekende kolorektale chirurg, ‘n professor by UCT, ‘n alternatiewe operasie kan uitvoer om die stuk derm te verwyder. Hy is nou oorsee, maar ons sien hom en sy span Woensdag 21 Oktober.
Ek het reeds gebond met my aanvanklike chirurg – hy is professioneel en tog menslik en gelowig, en ons stap nou al ‘n interessante paadjie saam. Ek sal hartseer wees om hom nou uit die herstelprentjie te laat. Tog is ek opgewonde oor die nuwe moontlikhede. Watch this space …
Kan nie hierdie lees en dan net omdraai en myself wysmaak dit raak my nie.
Baie sterkte vir jou. Sal weer kom inloer.
Soos ek alles in detail lees………..loop die trane en kan ek myself nie eens indink wat jy moet deurgemaak het nie. Ons bly hoop, bid en vertrou! Jy in ons gebede……en natuurlik jou pragtige familie! Groot drukkies van my af!!!!
Beste Sanet. Ek weet nie of jy my sal onthou nie, maar ek en Ewald het aan julle tafel gesit met Eulize en Kallie se troue. Ek wil net sê dat ek elke dag vir jou sal bid en dat jou blog baie inspirerend is! Ek hou jou blog dop vir verdere nuus. Groete uit Bloemfontein.
Hi Sanet ons hier in Pretoria het ook gebid dat dit nie ernstig sou wees nie, sterkte vir jou en jou gesin en onthou bly positief!
Wow! Ek is so trots op jou my vriendin!! Jy kon so maklik gedraai het na vrees toe, en jy het nie, jou fokus was reguit op Hom.
My hart raak so seer as ek moet hoor waardeur jy moes gaan, maar so so ongelooflik dankbaar en vol vreugde vir AL die positiewe wat saam met dit gaan.
Ons bly getrou bid vir jou en jou hele familie! Staan elke oggend op met God se belofte vir jou in jou hart, en wees rustig in die wete dat Hy besig is met ‘n wonderwerk waarvan jy deel is!
Lief jou sooo baie!
Ingie
Sanet, Jy ken my nie Ek is Mriet Beytell se Ma Ansa se vriendin in Hartswater. Ek kon net sowel my eie storie gelees het, behalwe dat ek borskanker gekry het. My man was ook in die posisie om die finale berig aan my oor te dra, alhoewel hy nie ‘n Dr is nie, maar ‘n boer en ‘n baie klein hartjie.
Ek wil net vir jou sê daar is lewe na enige kanker diagnose, wees positief soos wat jy klink en is en wees dankbaar, veel erger dinge kon gebeur het, veral as jy dink aan ‘n hartaanval kon jy dit nie met ons deel nie. Ek volg graag jou vordering en bid net sterkte vir jou en jou gesin toe, Glo en Vertrou dit sal goed gaan, ek is al 7 jaar deur die proses en kan net van dankbaarheid getuig. Kanker gee mens baie tyd om met jou God, jou vriende jou gewete, jou gesin en veral met jou vyande dinge “uit te sort”
Liefde en sterkte.
Marie
Sanet.
Tania het vanaand op FB eers vir my vertel van jou blog.
Ek is nie iemand met goeie raad of baie Bybelse kennis nie. En se boon-op die mees verkeerdste goed.
Maar ek glo baie in gebed. Dus sal ek gereeld jou blog lees. (kan dan vir Tania ‘n bietjie minder pla…)
En elke dag vir jou bid, vir volkome herstel, ondersteuning, positiwiteit en enige klein vat plekkies waar die duiwel wil vat.
Dink aan jou en jou gesin.
Baie sterkte Sanet.Dis nou woensdag 21 Okt en wag vir goeie nuus!Ons bid vir jou en jou gesin en glo dat Jesus ten volle sal genees!!
Sanet,
Ek en Susan bid vir jou! Ek weet dat God die Groot Geneesheer is van liggaam en Gees. Vertrou op Hom – Fight the good fight of faith…..1 Tim 6:12.
As ek enige iets vir jou kan doen, laat my weet.
Lief vir jou
Johnnie
Hello Sanet
Ek is baie geraak deur jou storie. Ek kan lees dat jy positief is en dit is baie belangrik, sal gereeld hier kom inloer.
“Once you choose hope, anything’s possible.”
Jy word in ons gebede opgedra.
Sterkte.
Dis goed dat jy deel en uitpraat. Ek het T3 gehad. 16 jaar gelede. Met ‘n ses maande baba. Eierstok-K. The silent killer. Met die regte cocktail en BAIE gebede is ek vandag nog in remissie.
Versorg jouself…baie wortelsap. Druiwe. Baie rus. Baie liefhê. Na aan jou Skepper – sterkte vir jou en jou man veral.
Ek is Ansa se “vorige baas” Dieter.
Hierdie dinge verstaan n mens nie. Sal eendag.
Jou positiwiteit en Geloof sal jou deurdra.
Weet ek bid vir jou.
My liefste nig!
Jy is ‘n inspirasie vir een en elk wat hierdie blog lees. Ons hou aan met bid en glo dat onse Liewe Jesus jou sal dra en dat onse Vader jou sal genees. Bid, bid, bid! My gebed is dat die bloed van Jesus oor jou sal spoel en jou van alle kanker sal genees.
Ek is so baie lief vir jou en jou gesin en vir my is daar net mooi niks belangriker as familie nie.
Sterk wees en kyk na bo.
Liefde en sommer baie drukke en soene
My liewe Sanet
Ilse het my laat weet. Ek lees toe gister en wou jou bemoedig – toe bemoedig jy my.
Ek gee vanoggend Jesaja 43 se eerste paar verse vir jou:
“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou. Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
“As jy deur water moet gaan, is ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,
“Want Ek is die Heilige van Israel, jou Redder…”
Ons bid vir jou en jou gesin.
“Here, U is die Groot Geneesheer. U is tot alles in staat.
Vanoggend bid ek vir kalmte, rustigheid en krag vir Sanet en haar mense.
Ek vra dat U elke oomblik van die operasie by haar sal wees en haar styf sal vashou. Ek bid dat U deur elkeen van die mediese personeel sal werk en dat U hulle al die kennis en kundigheid sal gee wat hulle vir die operasie nodig het.
Ek bid dat die operasie volkome suksesvol sal wees en dat Sanet vinnig en ten volle sal herstel.
Ek kom gee haar en haar geliefdes vanoggend in U hande. Waak oor hulle, dra hulle, beskerm hulle.
Dankie Here. In die naam van Jesus Christus vra ek dit.
Amen”
Liefste Sanet
Ek het gister ongelooflik baie aan jou gedink & vir jou gebed.Gisteraand jou blog sit en lees toe luister ek na die cd van Juanita du Plessis en wil dit graag vir jou opdra.
“By Jesus se voete”
Ek wens ek kon die pyn vir jou dra
Ek wens ek kon jou seerkry wegvat
Hier op my kniee is my gebed
Ek le jou by Jesus se voete neer
Hy ken jou vrese jou twyfel al jou seer
Hy bring lewe en vrede in jou hart
Hy sal jou vashou
Hy sal jou nooit verlaat nie
Hy is altyd by jou
Al maak niks vir jou sin nie
Ek le jou by Jesus se voete neer
Dit breek my hart om jou so te sien
Ek weet dat jy dit nooit verdien
En dan bring ek jou net weer tot voor die troon
So as jy alleen en bang
In die donker le en wag
Onthou die woorde
Want dis sy belofte
Ons bid vir Org, Mila & Stef. Ons is daar vir julle as julle enige iets nodig het.
Sterkte vriendin
Sunette & Jd
Liewe Sanet
‘Het vandag by Bea Geyser gehoor jy’s siek, so pas als gelees. Wow, wow, wow… Jy was van die dag dat ek jou ontmoet het een van my absolute gunsteling mense (en kliënte!) & ek bid defnitief vir julle. Ek kan sien jy’t ‘n wonderlike ondersteuningsraamwerk en dis fantasties. Familie is so kosbaar. Ek werk baie in jou omgewing en as ek OOIT iets vir jou kan doen, sê net- REGTIG. Al kan ek net ietsie verf om jou op te beur… Ek dink aan jou!! xxxx
Hi Sanet
Klink amper of jy medies geswot het!!!!Ek is so bly dit gaan so goed met jou, Jy is n amazing mens om so met ons almal jou nuus te deel. Ek wil jou net se ek sien altyd Mila se vrlike gesiggie by die skool en sy was s obly toe jy huis toe gekom het, Word gou gesond en pas jouself mooi op
Baie liefde Ronel
Dis so wonderlik om na soveel maande deel van die wonderlike getuienis te word!Ek is ook onbekend aan jou maar Ettienne se skoonmamma in Ermelo het my genooi om in te gaan op die blog!Het alreeds vir my 2 dogters gese om dieselfde te doen!Ons ,ek en my man is in Kimberley in die bediening en Ria was ‘n ander “dogter” vir my Mamma in Ermelo!Dit het dit vir ons baie makliker gemaak toe ons die beroep meer as 3jaar gelede gekry het.Vandag verstaan ek ook nou meer hoekom Ria en my pad moes kruis!!!Sal nog eendag dalk ook vertel hoe my geloof net so versterk is met veral ‘n Skrif 1Thess 5v18Message:”…;thank God no matter what happens.This is the way God wants you who belong to Christ Jesus to live”Amplified”Thank[God]in everything[no matter what the circumstances may be,be thankful and give thanks],for this is the will of God for you[who are]in Christ Jesus[the Revealer and Mediator of that will].”En ja jy is deurlopend ontsettend dankbaar en die Here gaan jou gehoorsaamheid eer!!!!!!!!!